Begrafnisondernemer laat lyk ‘herleef’

Argieffoto

‘n Begrafnisondernemer en ‘n vrou is in Durban in hegtenis geneem nadat die twee glo ‘n lyk gebruik het om lewensversekering mee te eis.

“Die 35-jarige vrou het glo ‘n geboortesertifikaat van ‘n fiktiewe persoon, Aphiwe Ntombela, bekom,” het kol. Vincent Mdunge, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, gesê. Die vrou het toe lewensversekeringpolisse by drie verskillende maatskappye, gesamentlik ter waarde van R950 000, in dié persoon se naam uitgeneem. Sy het gevolglik ‘n aantal maandelikse premies betaal.

“Toe die polisse gereed was teen geëis te word, het sy ‘n probleem gehad, aangesien sy ‘n persoon moes laat sterf wat nie bestaan het nie,” het Mdunge gesê. “Om dié probleem op te los, het sy met ‘n begrafnisondernemer van uMlazi in verbinding getree en hom gevra om ‘n vroulike lyk van sy lykshuis te “leen”, sodat die liggaam aan die dokter vir ‘n sterftesertifikaat voorgehou kon word,” het Mdunge verduidelik.

Die 42-jarige begrafnisondernemer het verlede Woensdag toe ‘n vrou se lyk na die eThekwini-lykshuis geneem, en die liggaam as “Aphiwe Ntombela” aangebied. “Die dokter het die liggaam ondersoek en ‘n sterftesertifikaat uitgereik,” het Mdunge bygevoeg.

Die vrou het toe dié sterftesertifikaat gebruik om teen die lewensversekeringspolisse te eis.

Die begrafnisondernemer het beplan om Vrydag terug te keer om die vrou se liggaam aan haar regte familie te oorhandig sodat hulle haar kon begrawe. Die polisie het egter ‘n wenk oor die slenter ontvang en het die man by eThekwini-lykshuis ingewag. Die vrou is later ook in hegtenis geneem.

Die twee sal Maandag in die kommersiële hof verskyn op aanklag van bedrog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.