Begrafnisreëlings vir dogtertjie wat per ongeluk geskiet is

Edith Boshoff (8). Foto: Beeld

Edith Boshoff, die 8-jarige meisie wat per ongeluk deur haar pa tydens ʼn rooftog geskiet is, word Donderdag begrawe.

Adele Boshof, Edith se ma, het aan Beeld gesê wat gebeur het is nie iets wat gou gaan oorwaai nie en dat hulle nou net fokus om al die begrafnisrëelings uit te sorteer. Edith word Donderdag om 10:00 uit die Kerksondermure in Centurion begrawe.

Laerskool Hennopspark, waar sy skoolgegaan het, hou Vrydag vir die gr. 1-, gr. 2- en gr. 3-leerlinge ʼn roudiens. “Ons wil op ons eie manier graag aan haar hulde bring en sal ’n predikant vra om ’n diens vir haar klasmaats te lei,” het Jannie Raath, skoolhoof, gesê. Volgens Raath is Edith se ouers, veral haar pa Glenn, nog stukkend. “Dis vir haar pa veral bitter swaar. Ek dink nie die volle werklikheid van wat gebeur het, het nog by Glenn of Adéle ingesink nie.”

Die polisie is steeds op soek na die groep rowers wat Vrydagoggend vroeg by die Boshoff-gesin se huis in Lyttelton Manor, Centurion, ingebreek het.

ʼn Saak van strafbare manslag is teen Glenn geopen. Na gelang van die ondersoek sal die direkteur van openbare vervolging besluit of hy vervolg sal word, het luitenant-kolonel Lungelo Dlamini van die polisie gesê.

Intussen het ʼn prokureur van die Suid-Afrikaanse Vuurwapeneienaarsvereniging (SAGA) gesê hoewel dit tragies is, was die pa nalatig en behoort hy van strafbare manslag aangekla word. “Ons wetgewing daaroor is streng. Die pa het oordryf deur deur die deur te skiet. As ʼn mens uit selfverdediging skiet, moet jy seker wees jy is in gevaar. ʼn Mens moet seker wees jy skiet die persoon wat jou wesenlik bedreig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Berni - South Africa ·

Dit is ‘n verskriklikke tragedie en om ‘n beampte van SAGA te he wat oordeel en nie self in daardie situasie was nie is on van pas! Ek gaan beslis op hulle webwerf my mening lig!

Liefde en vrede vir die ouers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.