Begrotingsrede: Minder geld vir eie misdaadbestryding

Pravin Gordhan, minister van finansies, se begrotingsrede vandag het bevestig dat Suid-Afrikaners in die volgende jaar minder geld aan hul eie veiligheid sal kan bestee en maar genoeë sal moet neem met die staat se besteding van hul swaarverdiende geld, het die vakbond Solidariteit gesê.

Volgens Piet le Roux, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), kry belastingbetalers steeds nie die geleentheid om daardie geld wat hulle op belasting betaal meer effektief aan te wend nie. “Gordhan moes eerder staatskuld ingekort het en ʼn werklike algemene belastingverlaging aangekondig het. Vir ware, volhoubare groei in die ekonomie is dit belangrik dat die staatskas so min as moontlik eerder as soveel as moontlik belasting hef.”

Le Roux sê Gordhan se aankondiging van ʼn nominale verligting in persoonlike inkomstebelasting is nie werklik ʼn verligting nie. “Dit is net ʼn skynverligting en ten spyte van die uitgebreide inkomstebelastingkerwe sal ʼn persoon, wat in die vorige belastingjaar R160 000 verdien het en wat vanjaar ʼn skamele 6%-verhoging kry, vanjaar ʼn groter persentasie aan inkomstebelasting afstaan as verlede jaar.”

Le Roux sê dit help veel dat Gordhan praat oor meer effektiewe besteding as daardie besteding ten koste van belangriker sake geskied. “Die Lulu Xingwana-belasting, die geld waarmee die minister van die departement van vroue, kinders en gestremdes in staat gestel word om ondeurdagte uitsprake te maak, kan as voorbeeld gebruik word. Suid-Afrika kan nie bekostig dat hul skaars hulpbronne hiervoor aangewend word nie. Dit is geld wat belastingbetalers nou nie meer sal kan aanwend om hulself te beveilig, self misdaad te bestry en in hulle gemeenskappe terug te ploeg nie.”

Solidariteit is teleurgesteld dat Gordhan ten spyte van die vakbond se beroep om ʼn belastingkorting op veiligheidsuitgawes in te stel, die teenoorgestelde gedoen het en Suid-Afrikaners swaarder belas het. Solidariteit het vroeër sy Gee dit terug-veldtog vir ʼn belastingkorting op veiligheidsuitgawes van stapel gestuur. Solidariteit se voorstel vir ʼn belastingkorting op veiligheidsuitgawes is geskoei op die bestaande praktyk ingevolge waarvan Suid-Afrikaanse belastingbetalers belastingkortings op hul mediese uitgawes ontvang. Mense kan via die webwerf, www.geeditterug.co.za, petisiebriewe aan minister Gordhan stuur, en die veldtog kan op Twitter by #GeeDitTerug gevolg word. Beswaar kan ook aangeteken word deur bloot die woord, “Taks” na 34388 te SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.