Bejaarde egpaar in vrieskas gekry

Rudolph en Elma van Heerden van Belfast. Foto: Verskaf.

Die liggame van Rudolf en Elna van Heerden, ‘n bejaarde egpaar van Belfast in Mpumalanga, is Woensdagoggend in ʼn vrieskas in hul huis opgespoor.

Volgens ʼn polisiebeampte op die toneel het ʼn onbekende aantal verdagtes in die vroeë oggendure die egpaar (albei 79 jaar oud) in hul huis oorweldig. “Hulle het deur ʼn venster toegang tot die perseel gekry,” het die beampte aan Maroela Media gesê.

Die egpaar se huiswerker het onraad vermoed toe sy omstreeks 08:00 by die huis opdaag en gesien het die huis is geplunder. Sy het die buurman in kennis gestel, wat die polisie ontbied het.

“Die egpaar se liggame is vasgebind in ʼn toegesluite vrieskas in ʼn kantoor in hul huis aangetref. Die verdagtes het die toneel omstreeks 04:45 in die egpaar se Prado gevlug,” het die beampte gesê. Die voertuig is later verlate naby Wonderfontein gevind. Dit is nog nie seker wat alles uit die egpaar se huis vermis word nie, maar pistole word wel vermis.

Volgens die beampte het die egpaar kop- en handbeserings opgedoen. Dit is nog nie bekend of hulle gesterf het voor hulle in die vrieskas geplaas is nie. Niemand is nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie.

Kol. Leonard Hlathi, ‘n polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie is op soek na verdagtes in verband met die moorde op die Van Heerdens. Mense met inligting kan kapt. Owen Dibakwane skakel by 082 318 9536 of 013 253 1688.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danie Janse Van Rensburg ·

Die nuus het my groot geskok. My skoonpa(Alwyn Strydom) bel my van oggend en se hy sien Oom Koffie se Prado langs die snelweg staan, ekhet toe die Polisie in kennis gestel.
Dit is die tweede moord in ‘n kort tyd. Daan Smit het ook met sy lewe weg gekom toe hulle by hom in gebreuk het en hulle aanval teen hom was om dood te maak.

Johannes Blom ·

So n onnodige verlies van 2 mense se lewens. Dis n skande vir ons samelewing (Regering van die dag)
Innige simpatie vir die betrokke familie.

Bets Joubert ·

Waneer gaan iemand iets doen aan hierdie sinnelose dade wat gepleeg word, bejaardes wat vermoor word, kinders wat verkrag word, kapings as die regering van die dag nie iets gaan doen nie is ons vol gedoem, en dit is wat hulle wil he, ons behoort indringend ons terug te draai na GOD, en nie net vir n dag of so nie, baie ernstig, my simpatie met hierdie mense se familie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.