Bejaarde in dogter se sorg ná plaasmoord

‘n 78-jarige vrou met Alzheimer se siekte, wat vir ‘n week lank in ‘n badkamer toegesluit was nadat haar seun op ‘n plaas naby Rustenburg vermoor is, is nou in die sorg van haar dogter geplaas.

Maroela Media het Saterdag berig Eric Labuschane (51) se liggaam is Donderdagmiddag in die slaapkamer van ’n huis wat hy gehuur het op die plaas Olifantshoek, sowat 23 km van Rustenburg, opgespoor.  Sy ma is eers die volgende dag in ‘n toegesluite badkamer gevind. Sy was gedehidreer en erg geskok en is na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir behandeling. Sy is intussen in die sorg van haar dogter ontslaan. Haar naam word weerhou uit vrees vir verdere viktimisasie.

Labuschagne het na sy ma op die plaas omgesien. Hy het ook met Deense honde op die plaas geteel. Hy is met ‘n mes gesteek, met ‘n klip aangeval en is moontlik ook verwurg. Daar was tekens van ‘n worsteling en daar was bloed op van die mure.

Kol. Emelda Setlhako, ‘n woordvoerder van die Noordwes-polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie. Die polisie versoek enigiemand met inligting om hulle by 10111 te kontak.

Die polisie vermoed Labuschane is op 13 Maart vermoor. Die polisie is op soek na die slagoffers se tuinier om hulle met die moordondersoek by te staan. ‘n Volkswagen-bakkie en twee selfone word steeds vermis.

Lees ook:
Plaasaanvalle: “Boere moet in kontak bly met mekaar”
Man vermoor, ma in badkamer toegesluit

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.