Bejaarde jaag ‘boewe’ glo met honde, vierwielfiets

Argieffoto

‘n 74-jarige man van Limpopo is in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n man in Roossenekal, Groblersdal, aangerand het.

“Die man is Vrydag in hegtenis geneem nadat hy glo verlede Maandag een van twee mans, wat na bewering by hom kom werk soek het, aangerand het,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, gesê. Hy is op R500 borg vrygelaat.

Petrus Lazarus Kunz sal na verwagting Maandag in die Middelburgse landdroshof verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig. “Kunz het vermoed dat die mans hom wou beroof en het toe sy honde op hulle losgelaat en agter hulle aangejaag met sy vierwielfiets,” het Mulaudzi gesê. Die mans het gevlug, en een van hulle, Lazarus Masilela (19) is met ‘n geweerkolf teen die kop getref. Hy het geval en Kunz het glo met die vierwielfiets oor hom gery. Masilela se vriend, Nicholas Tshehla (25) is ongedeerd.

Mulaudzi sê Kunz het ‘n polisiebeampte op pad gekry en hom gestop. Hy het die voorval by die polisiebeampte aangemeld en Masilela en Tshehla is opgespoor. “Die stasiebevelvoerder het hulle op pad gekry, hulle het selfs die polisievoertuig voorgekeer om hulp vir die beseerde Masilela te vra.” Die twee is teruggeneem na die toneel toe en later na die polisiestasie.

Kunz is versoek om ‘n klag van betreding aan te meld, maar hy het geweier. “Ons het hom selfs afgeneem waar hy bevestig dat hy nie ‘n saak wil aanmeld nie,” het Mulaudzi bygevoeg.

Masilela en Tshehla is toe vir enige betrokkenheid in die misdaad ondersoek, en toe niks gekry is nie, is hulle vrygelaat.

Volgens Mulaudzi het Kunz toe Donderdag na ‘n ander polisiestasie in die gebied gegaan en beweer dat hy nie hulp by die polisiestasie in Roossenekal ontvang het nie. ‘n Speurder en die stasiebevelvoerder is toe na die polisiestasie in Roossenekal, waar beamptes verduidelik het dat Kunz nie ‘n saak by hulle aanhangig wou maak nie. Die saak is uiteindelik by Roossenekal-polisiestasie oopgemaak.

Die polisie het Donderdag weer na Masilela en Tshehla gesoek en hulle opgespoor. Hulle is in hegtenis geneem en op ‘n waarskuwing vrygelaat. Hulle sal op 31 Januarie in die Laersdrift periodieke hof verskyn.

Die twee het Vrydag teruggekeer na die polisiestasie en die saak van aanranding teen Kunz aanhangig gemaak waarop hy in hegtenis geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos van Rooyen ·

Ek kan nie anders as om positief te reageer op hierdie ou omie van 74 se optrede nie; volgens myns insiens, is dit meer as noemenswaardig. Dis ‘n duidelike aanduiding dat daar steeds meer ‘murg’ in die pype van ons oues van dae steek as in die pc bende-blanke- jongelinge. Baie prysenswaardig en ek slaan hierdie poging om homself te beveilig, werklik baie hoog aan. Deur homself te verdedig deur aan te val voordat hyself aangeval word, dwing respek af – hy het slegs verseker dat sy gesinslede veilig bly. Mooi so oom. Ek loof jou. Ek hoop dat sulke soort optredes waar die reg in eie hande geneem word, opgevolg sal word deur die res van die boerevolk!

mina ·

baie intersant maar as hulle die boer nou vermoor het was dit maar net weereens nog n plaasanval en word hule nooit gevang nie en jy hoor ook nooit weer iets daarvan nie. . verstaan nie lekker nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.