Bejaarde op plaas aangerand

Fanie Olckers, ʼn 86-jarige plaasopsigter van Mpumalanga, is in ʼn bedenklike toestand in die Middelburg-hospitaal nadat hy voorverlede Sondag glo met ʼn boomstomp tydens ʼn familiebyeenkoms geslaan is.

Olckers se dogter, Marie Delport, het aan Maroela Media gesê hy is op 23 September deur ʼn skoonfamilielid aangerand toe hulle op die plaas Tweefontein naby Hendrina sy vrou, Kobie, se verjaardag gevier het. Olckers en ʼn 24-jarige man het in ʼn rusie betrokke geraak, waarna die man Olckers glo met ʼn boomstomp bygekom en hom geskop het. Olckers se seun het glo probeer intree en is ook in die proses aangerand. Die 24-jarige se pa was glo ook by die voorval betrokke.

Olckers het kort na die voorval ʼn saak van aanranding by die Hendrina-polisie aanhangig gemaak en is terug na sy huis om te herstel. Hy het egter die Maandag begin sleg voel, waarop die plaaseienaar ʼn ambulans ontbied het. Olckers is na die staatshospitaal in Middelburg geneem vir behandeling. Hy het onderweg na die hospitaal in ʼn koma verval en word sedertdien met kunsmatige asemhalingsmasjiene aan die lewe gehou. Volgens sy dokter het hy ernstige inwendige beserings opgedoen.

Sersant Gerald Sedibe, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die 24-jarige John Breedt het Dinsdag op ‘n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die hof verskyn. Hy is op borgtog vrygelaat en moet weer Vrydag in die hof verskyn. “Die polisie sal ʼn saak van moord ondersoek, sou Olckers aan sy beserings beswyk,” het Sedibe gesê. Sedibe het gesê tans word daar nie ʼn saak teen enige moontlike medepligtige ondersoek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.