Bejaarde skiet rower in Centurion dood

ʼn Bejaarde inwoner van Eldoraigne in Centurion het Woensdagmiddag ʼn vermeende rower doodgeskiet nadat die bejaarde en sy vrou deur twee mans oorval is.

Kapt. Louise Steynberg, ʼn polisiewoordvoerder, sê die man was omstreeks 15:30 besig om sy swembad skoon te maak. Toe hy terugkeer na sy huis het hy op twee mans afgekom wat besig was om sy televisie te ontkoppel. “Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen op hom gerig en hom na die hoofkamer gedwing, waar sy vrou geslaap het,” het Steynberg aan LookLocal Centurion gesê.

Die verdagtes het aangedring op die kluis se sleutels, wat in die egpaar se hangkas is. Terwyl die verdagtes met die kluis doenig was, het die man sy vuurwapen, wat langs sy bed was, gegryp en een van die verdagtes doodgeskiet.

“Die ander verdagte het gevlug. ʼn Derde verdagte, wat in ʼn wegkomvoertuig buite die huis gewag het, het ook van die toneel gevlug,” het Steynberg bygevoeg. Verskeie van die egpaar se besittings was reeds in die voertuig gelaai toe die man weggejaag het.

Die polisie is nog op soek na die twee verdagtes wat ontsnap het. Volgens Steynberg word die saak nog ondersoek en is dit nog nie bekend of ʼn saak van moord teen die bejaarde aanhangig gemaak gaan word nie.

Bron: LookLocal Centurion

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lydia Jankowitz ·

Mooi so… gee hulle van hulle eie medisyne. En gee vir die bejaarde ‘n medalje!

Pieter van der Merwe ·

“Volgens Steynberg word die saak nog ondersoek en is dit nog nie bekend of ʼn saak van moord teen die bejaarde aanhangig gemaak gaan word nie.” Is dit nou nie belaglik nie. Jy (‘n bejaarde) word in jou eie huis deur iemand met ‘n pistool gedreig en as jy jou verdedig, moet hulle nog besluit of hulle jou van moord gaan aankla.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.