Bejaarde tydens juweliersrooftog doodgeskiet

ʼn Bejaarde man van Kaapstad is Sondagaand doodgeskiet toe ʼn groep gewapende rowers juweliersware ter waarde van nagenoeg R6 miljoen in Durbanville beroof het.

Die rowers, wat glo in drie voertuie gery het, het op ʼn voertuig toegeslaan wat sakke vol juweliersware vervoer het, het die Cape Argus Maandag berig. Die voertuig, ʼn Toyota Quantum, was glo onderweg na ʼn privaatwoning in Vierlanden nadat van die juweliersware glo vroeër die dag tydens ʼn veiling by ʼn hotel by die V&A Waterfront verkoop is.

Na wat berig word, het een van die voertuie, wat die rowers gebruik het, reg van voor teen die Quantum gebots. ʼn Ander voertuig het die Quantum van agter af blokkeer. Die rowers het uit die onderskeie voertuie gespring en op die Quantum losgebrand, waarna hulle met die juweliersware in ʼn derde voertuig gevlug het.

Die slagoffer (65), vermoedelik van Kraaifontein, is in die kop geskiet en is op die toneel dood verklaar. Die bestuurder van die Quantum het die aanval oorleef, maar was te geskok om met veiligheidsbeamptes, wat eerste op die toneel was, te praat.

Kapt. FC van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag die voorval bevestig en gesê die slagoffer se naam mag nog nie bekend gemaak word nie.

Niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie. Die polisie versoek enigiemand met meer inligting oor die voorval om Crime Stop by 8600 10111 te skakel.

Klik hier om meer te lees.

Bron: Cape Argus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.