Bejaarde vrou van PE vermoor

Die liggaam van ʼn bejaarde inwoner van Port Elizabeth, Suzie Willemse (84), is Dinsdagoggend in haar huis in die Ferguson-woonbuurt aangetref.

Kapt. Stanley Jarvis, ʼn polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap, het aan Maroela Media gesê Willemse se liggaam is deur haar seun, Eric, gevind. “Eric het onraad vermoed omdat hy sy sedert Maandag gesukkel het om sy ma, wat alleen bly, telefonies in die hande te kry. Hy het gaan ondersoek instel en omstreeks 11:00 by sy moeder se woning aangekom,” het Jarvis gesê.

Eric het by die toneel opgedaag en gesien die voorhek, voordeur en kanthekkie staan oop. “Daar was tuingereedskap by die kanthek en hy het aanvanklik gedink sy ma is dalk in die agtererf doenig. Toe hy haar nie daar opspoor nie, is hy die huis in waar hy gesien het een van die kamerdeure is van buite gesluit met die sleutel steeds in die deur,” het Jarvis bygevoeg

Eric het die deur oopgesluit en sy ma se liggaam op die grond langs ʼn bed aangetref. Sy was met ʼn kombers toegegooi. Haar hande was met ʼn tou agter haar rug vasgebind.

Volgens Jarvis is juweliersware en beddegoed gesteel. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof en moord. Hulle is in dié stadium op soek na een verdagte. “Die Port Elizabeth- en provinsiale polisie is by die grootskaalse soektog betrokke. Ons beskou die voorval as ʼn baie ernstige misdaad. Die provinsiale polisie is by die saak betrokke om die voortdurende geweld teen vroue en kinders te beveg,” het Jarvis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.