Bejaarde vrou vernietig antieke kunswerk toe sy dit wou restoureer

Aan die linkerkant is die kunswerk voor dit 'gerestoureer' is. Regs is die eindproduk.

ʼn Bejaarde vrou se pogings om ʼn 19e eeuse kunswerk te restoureer het dit moontlik in die proses geruïneer.

Die 80-jarige Cecilia Gimenez was glo nie tevrede met die tempo waarteen die kunswerk, Ecce Homo, van Elias Garcia Martinez in haar kerkie in Spanje gerestoureer word nie, berig die New York Daily News. Die kunswerk is destyds op die muur van die Mercy-kerk in die Spaanse dorpie Zaragoza geverf en dit het begin afskilfer.

Die Center for Morjanos, ʼn plaaslike kulturele organisasie, het aanvanklik ʼn donasie ontvang om die kunswerk te restoureer. Die vrou, wat daar kerk gaan, was glo nie tevrede met tydsverloop van die proses nie en het self met haar verfkwas ingespring. Na wat verneem word, het sy nie toestemming van enigiemand gekry om daaraan te werk nie.

Cecilia Gimenez

Gimenez sê egter die priester het van die poging geweet en dat sy dit in volle sig van enigiemand gedoen het wat die kerk binnegekom het.

Kunskenners poog tans om die kunswerk, wat Jesus met ʼn doringkroon uitbeeld, te red. Dit het nie veel finansiële waarde nie maar het wel onskatbare sentimentele waarde.

“Ons dink sy het goeie intensies gehad. Sy gaan vandeesweek met ʼn regte kunsrestoureerder vergader en verduidelik watter materiale sy alles gebruik het. As dit nie gered kan word nie, gaan ons ʼn foto van die oorspronklike kunswerk oor die area hang, “ het Juan Maria de Ojeda, minister van kultuur, gesê.

Intussen word daar nou spottend na die Ecco Homo, wat Aanskou die Man beteken, verwys na die Ecce Mono (Aanskou die Aap).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.