Bejaarde vrou wil na privaat psigiatriese hospitaal skuif

Sophia de Villiers tydens 'n vorige verskyning by die Wynbergse streekshof. Foto: Jeffrey Abrahams

ʼn Bejaarde vrou wat in ʼn psigiatriese hospitaal opgeneem is nadat sy glo ‘n sluipmoordenaar gehuur het om haar brug-maat se vrou te vermoor, het Woensdag by die Wynbergse streekshof aansoek gedoen om na ʼn private instelling verskuif te word.

Die saak is tot 25 Junie uitgestel om die hof kans te gun om die aansoek te evalueer. Sophia de Villiers (76) het glo verlief geraak op ʼn man saam met wie sy begin brug speel het ná haar egskeiding. Sy het in 2006 glo ʼn sluipmoordenaar gehuur om die man, Tony Wilson, se vrou te vermoor. Irene “Nicky” Wilson van Vishoek het die aanval, waarin sy sewe keer met ʼn mes gesteek is, oorleef. De Villiers is in hegtenis geneem en van poging tot moord aangekla.

De Villiers se dagboek het glo die volgende instruksies bevat: “Bly stil, moet vir niemand sê nie. Nie die vrou nie. Kry sterk man. Donderdag: Messe. Verwyder vingerafdrukke na die tyd. Moenie hardloop nie. Hou die deure oop. Telefone. Moenie skree nie. Los messe daar. Ontmoet (by) biblioteek. Moenie na my huis toe kom nie. Maak jou vingernaels skoon.” Die polisie het nooit die sluipmoordenaar, ene Kingston, opgespoor nie en hy het vermoedelik na Transkei gevlug.

ʼn Sielkundige evaluering het bevind dat De Villiers nie die gevolge van haar dade begryp het nie, en gevolglik nie bevoeg is om verhoor te staan nie. Sy is deur magistraat Carel Meyer as ʼn pasiënt van die Staatspresident verklaar en by die Lentegeur staatpsigiatriese-hospitaal opgeneem om die res van haar lewe daar te spandeer. William Booth, prokureur vir die verdediging het gesê dat hy ʼn aansoek by die hooggeregshof van die Wes-Kaap ingedien het om die streekshof se bevel dat De Villiers by ʼn staatsinstansie gehou moet word, hersien moet word. Booth het versoek dat De Villiers na ʼn privaathospitaal verskuif moet word. Die staat het egter die aansoek teengestaan, maar het nog nie dokumente by die hooggeregshof ingedien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.