Bejaardes in vrieskas: Nog een vas

Rudolph (Koffie) en Elma van Heerden van Belfast. Foto: Verskaf.

Nog ʼn persoon is in hegtenis geneem vir die moord op Rudolph (Koffie) en Elna van Heerden van Belfast wat verlede week dood in ʼn vrieskas in hul huis aangetref is.

“Die polisie in Mpumalanga en Mamelodi het kragte saamgesnoer en verdere ondersoek het Maandag tot die inhegtenisname van die tweede verdagte gelei. Die tweede verdagte is 24  jaar oud en is in Lydenburg aangekeer,” het kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, gesê.

 

Die Pretoriase metropolisie het Saterdag ʼn 21-jarige man in Mamelodi aangekeer nadat die egpaar se pistool in sy besit gevind is. Hlathi sê die polisie het ook beslag gelê op ʼn voertuig wat glo vroeër van ʼn bejaarde paartjie in Carolina gesteel is.

Die polisie se ondersoek duur voort om te bepaal of meer verdagtes met die moorde verbind kan word. Die verdagtes gaan binnekort in die hof verskyn op aanklagte van huisroof en moord.

Maroela Media het vroeër berig ʼn onbekende aantal verdagtes het in die vroeë oggendure die egpaar (albei 79 jaar oud) in hul huis oorweldig. Die egpaar se huishulp het onraad vermoed toe sy omstreeks 08:00 by die huis opgedaag en gesien het die huis is geplunder. Sy het die buurman in kennis gestel, wat die polisie ontbied het. Die egpaar se liggame is vasgebind in ʼn toegesluite vrieskas in ʼn kantoor in hul huis aangetref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.