Bejaardes se welstand glo minder werd as dié van gevangenes in SA

Argieffoto

Die staat spandeer meer daaraan om gevangenes te onderhou as om na bejaardes om te sien. Die meer as twee miljoen mense wat van die toelaag vir ouer mense afhanklik is, ontvang ʼn karige R1 260 per maand, terwyl die belastingbetaler R10 000 per gevangene per maand opdok.

“Hoewel dit volgens die departement van maatskaplike ontwikkeling die doel van die Wet op Ouer Persone is om die status, welsyn, veiligheid en sekuriteit van ouer mense te behou, word bejaardes daagliks uitgebuit,” sê Christine Breet, die adjunkhoof van Solidariteit Helpende Hand. “Dit is in ʼn groot mate juis dié departement wat bejaardes uitbuit met ʼn pensioen waarmee hulle eenvoudig nie kan oorleef nie. Helpende Hand beoog om hierdie toelaag te verbeter.”

Bejaardes wat vir die toelaag vir ouer persone kwalifiseer, ontvang ʼn bedrag van R1 260 per maand en  diegene wat ouer as 75 jaar is, ontvang R1 280 per maand. Dié bedrag is volgens verskeie organisasies wat na bejaardes se belange omsien, asook Helpende Hand se eie navorsing onder bejaardes, te min om ’n menswaardige oudag te hê. Volgens Kgomotso Diseko, die nasionale woordvoerder van Sassa – die regeringsagentskap vir maatskaplike sekerheid – is dit bloot ’n subjektiewe persepsie van sommige mense dat die toelaag ontoereikend is en dat dit hoofsaaklik verband hou met die betrokke indiwidu se eie lewensomstandighede. Hy meen een maaltyd per dag kan aanvaarbaar wees in die geval van bejaardes, afhangend van die soort maaltyd wat aangebied word.

In teenstelling met die regering se toelaag vir bejaardes, wat reeds hul bydrae tot die samelewing gelewer het, spandeer die departement van korrektiewe dienste heelwat meer per maand om een gevangene te onderhou. Volgens die departement van korrektiewe dienste kos dit R318 per dag, oftewel R10 000 per maand, om ʼn gevangene te onderhou.

Sassa se regverdiging van die huidige stand van toelae is dat die toelaag vir bejaardes wel elke jaar verhoog word. Van 2012 tot 2013 is die toelaag met R60 per maand verhoog.

“Die ekstra R60 per maand vul baie min gate as jy nie eens geld het om kos, onderklere of medisyne te koop nie,” sê Breet. “Dit is onaanvaarbaar dat bejaardes se welstand so min beteken vir die departement van maatskaplike ontwikkeling.”

Solidariteit Helpende Hand pak verskeie projekte aan om in bejaardes se behoeftes oor die breë spektrum te voorsien. Die verhoging van die toelaag vir ouer persone is een van Helpende Hand se projekte wat in die volgende jaar aandag sal geniet.

Om by te dra tot Helpende Hand se projekte, sms die woord “hand” na 34388 en ʼn agent sal jou skakel (ʼn sms kos R2).

Luister hier na die volledige onderhoud oor die kwessie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gawie Botha ·

Die probleem is,,,,,dat die gevangenis n kunsmatige werk verskaffings Buro is,en duisende leweransiers aan die gevangenis ,met hulle werkers,en gevangenis personeel,,,en,,,en,,en en,,dit is n domino efek op die verskaffing van arbeid,,,,wat nie so suksesvol by die “ou mense” sal wees!

Stoere Boer ·

Hulle moet kyk na waar die kiesersmag lê. Daar is baie meer stemme in die gevangenis as bejaardes daarom sorg hulle vir hulle beter.

Henrietta Klaasing ·

Het as onderwyseres my lewe lank vir die staat gewerk, 2009 afgetree. My staatspensioen groei met 3% per jaar – kyk wat is inflasiekoers en bereken hoe ons agteruitboer! Genadiglik het ek ander voorsiening ook gemaak – maar dit verander niks aan die werklikheid dat die staat ons gruwelik uitbuit nie. Die GEPF is ‘n gerieflike melkkoei wat kort-kort vir hul skelmstreke gebruik word

Peter Bezuidenhout ·

n Mens moet voorsiening maak vir jou oudag,maar my hart gaan uit aan diegene wat nie kan of kon nie.In Europa word daar fantasties omgesien na die oues van dae,wat net regverdig is.

Willy ·

Dan kry jy die swendelaars wat traktaatjies en die bybel op strategiese plekke sit en die pensioenarisse gewetenloos uit hulle pensioen uit swendel.

Seg Net ·

Daar is mense wat misdaad pleeg om gevang te word sodat hy/sy slaapplek en kos verniet kan kry. Die gevangenis het deesdae ‘n goeie lewe in die tronk en die doel om mense te straf misluk totaal en al. Waarom is handearbeid afgeskaf. Gevangenis behoort vir hulle kos te werk en behoort ook uit verhuur te word om te werk teen ‘n loon wat bekostigbaar is vir die wat daarvan gebruik wil maak. Gevangenisse het te veel voordele. Indien ek bv. nie toelating vir universiteit kry nie of nie geld het nie, pleeg misdaad en ‘n misdaad en gaan leer vir ‘n graad op die belastingbetaler se onkoste en stap daar uit met geen studie skuld en ‘n graad.

javr ·

Dis genoeg om van te huil! Genade, mens kan dit elke dag om jou sien hoe swaar die ou mensies kry! Dis waarom ek voel daar moet meer welsyns organisasies na die oues omsien want daar is oor as genoeg wat na kinders omsien. Moet my asb nie verkeerd verstaan nie, kinders het ook hulp nodig maar die ou mensies het hulle deel vir die samelewing gedoen en VERDIEN dat ons nou bietjie na hulle omsien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.