Bekende inwoner van Hartebeeshoek vermoor

Beresford Jobling. Foto: Kormorant

Beresford Jobling (56), ʼn bekende inwoner van Hartebeeshoek buite Pretoria, se liggaam is Sondag in ʼn rivier gevind nadat hy vermoedelik Vrydagaand vermoor is.

Kormorant berig dat Jobling glo Vrydagaand deur vyf jeugdiges in sy huis oorval is, met ʼn ysterpyp geslaan en daarna verwurg is. Jobling was die voorsitter van die Hartbeespoort Omgewing en Erfenis Vereniging. Romano van der Spuy, voorsitter van de gemeenskapspolisiëringsforum, sê Jobling is glo oor sy bene met die ysterpyp geslaan waarna hy met ʼn tou verwurg is. Die verdagtes het glo Jobling se liggaam agter op sy Toyota Hilux gelaai waarna hulle sy liggaam in die rivier naby Hekpoortweg gegooi het. Die verdagtes was Saterdagoggend in ʼn ongeluk met Jobling se bakkie betrokke. Die bakkie het verskeie kere gerol en twee van die verdagtes is ernstig beseer en in ʼn hospitaal in Krugersdorp opgeneem. Die polisie het die ongeluk ondersoek en besef dat die bakkie aan Jobling behoort. Jobling se liggaam is Sondag deur verbygangers in die rivier opgemerk. Die vyf verdagtes, tussen 17 en 19 jaar oud, is in hegtenis geneem. Hulle is almal leerlinge aan die Schaumberg gekombineerde skool en een van die verdagtes is glo die seun van Jobling se huiswerker. ʼn Roudiens sal vandag om 11:00 vir Jobling gehou word in Hartebeeshoek.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.