Die pa van die wêreldbekende fluitspeler, Wouter Kellerman, is verlede week in die hospitaal dood, ʼn week nadat hy en sy vrou in hul huis in Johannesburg aangeval is.
Pieter Kellerman (85), ʼn afgetrede bankier, en sy vrou Susan (75), het ernstige beserings opgedoen toe rowers hulle in hul huis in Emmarentia oorval en erg aangerand het, berig Beeld. Die egpaar is van R4 000 en juweliersware beroof en vir dood gelaat.
Wouter was tydens die voorval oorsee besig met ʼn musiektoer en het onlangs teruggekeer.
“Dit was ʼn verkriklike, wrede en heeltemal onnodige aanval. Ek bespreek opsies met privaatspeurders om my pa se moordenaars vas te trek,” het Wouter gesê.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
‘n Roudiens word Dinsdag 15:00 by Wouter se huis in Ferndale, Randburg, gehou.
– Sapa