Bekende skrywer en gesin aangeval

Gus Silber. Argieffoto: panmacmillan.co.za

Gus Silber, ʼn skrywer en joernalis, en sy gesin is oor die naweek deur ʼn groep gewapende mans in hul huis in Northcliff, Johannesburg, aangeval en beroof.

Silber (56) en sy gesin is deur die groep rowers in hul huis in Acaciastraat oorweldig, het Beeld Dinsdag berig.

“Ek en my oudste dogter, Sarah-Jane (19), het omstreeks 18:30 in ons huis se oprit stilgehou. Een van die mans het op my afgestorm en sy vuurwapen op my gerig,” het Silber gesê.

“Dit is ʼn baie eienaardige en vreemde gevoel as iemand ʼn vuurwapen op jou rig. Dit is eers toe ek die tweede man, wat met ‘n haelgeweer wat korter gesaag is gesien het, dat ek besef het die situasie is baie ernstig.”

Die groep mans het daarna Silber se vrou, Amanda (54), en dogter, Rachael (13), in die huis oorweldig en almal vasgebind, waarna hulle die huis geplunder het.

Silber het die mans gesmeek om nie sy skootrekenaar te vat met al sy werk op nie, maar sy versoek het op dowe ore geval. Die mans het ʼn duvet oor die gesin gegooi waarna hulle in Silber se voertuig gevlug het met rekenaars, iPads, selfone en ʼn kluis.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.