Bekende sportjoernalis tydens onderhoud beroof

Elma Smit. (Foto: Instagram)

Wat veronderstel was om ’n storie van hoop te wees, het in ’n nagmerrie ontaard vir die sportaanbieder Elma Smit en ʼn kameraspan tydens ’n onderhoud met die Springbok vrouerugbyspeler Babalwa Latsha.

Drie gewapende rowers het Smit, ʼn sportverslaggewer van Jacaranda FM, en die kameraspan Saterdagoggend in Khayelitsha in die Wes-Kaap beroof.

Smit het vanoggend op Jacaranda FM aan omroeper Martin Bester gesê dat hulle op ’n rondomtalie in ’n parkie gesit het toe gewapende mans hulle beveel het om op die grond te lê en hulle toerusting geëis het. Een van die rowers het ’n vuurwapen op hulle gerig.

Die gesteelde toerusting ter waarde van R500 000 sluit kameras, ligte en klanktoerusting in. ’n Selfoon en beursie is ook gebuit sowel as ’n kamerasak met geheuekaarte. Smit het gevolglik ook beeldmateriaal van die rugbyspeler Pieter-Steph du Toit verloor wat hulle die vorige dag opgeneem het.

Smit sê dat sy onder omstandighede oukei is, maar dat haar hart na Latsha uitgaan.

“Dit was ’n storie van hoop en ek is uiters teleurgesteld. Nadat ons die klag by die polisie ingedien het, het hulle agter ons aangery tot ons die snelweg bereik het. Babalwa is die een wat agterbly omdat sy ’n verskil in haar gemeenskap wil maak,” sê Smit.

Babalwa Latsha. (Foto: Instagram)

Latsha, wat ook regsgraad het, is bekend vir haar welwillendheid en betrokkenheid in die gemeenskap – veral by kinders. Sy rig onder meer sport af en versprei ook sanitêre produkte aan meisies in Khayelitsha. Volgens Smit was Latsha se ouers ook tydens die voorval teenwoordig. Niemand is beseer nie.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die voorval en dat niemand nog in verband met die roof in hegtenis geneem is nie. Volgens Traut het die verdagtes in ’n wit Volkswagen Polo gevlug.

Luister hier na Smit se onderhoud op Jacaranda FM.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anthony ·

Nee regtig, wie ookal die ” go ahead ” gegee het vir daai onderhoud in Khayelitsha met n half miljoen se toerusting en n fyn, blonde, blou oog wit meisie moet hul kop laat lees…

Ilke ·

Dit net nadat `n ander joernalis ook laasweek tydens n onderhoud daar beroof is, van al die kameras en toerusting.

Yolandie ·

Ten minste is julle veilig. Persoonlike goed kan mens maar altyd vervang maar nie lewens nie. In ons land is dit net ‘n wonderwerk dat julle veilig is. Vermy maar die townships sou my raad wees.

Pappa Beer ·

Het hulle nou regtig gedink hulle gaan almal daar vol “smiles” sit en “kumbaya” sing? Dit is suid afrika!!! Heloooooo!

Sandra ·

Wat anders het hulle verwag? Dis mos die nuwe “normaal” in ons wonderlike land waar “demokrasie” hoogty vier.

Tiptol ·

Nonsens. Daar ís meer gevaarlike en minder gevaarlike plekke in enige land.

Realis Thailand ·

Waarom het die vrou in Kayalitsha ingegaan
Ek ken die plek dis nie n plek vir n vrou en duur toerusting nie
Sy moes maar verwag om beroof te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.