Beknopte geskiedenis van die Curriebekertoernooi

Die eerste kompeterende rugby wat op georganiseerde vlak tussen spanne uit verskillende streke in Suid-Afrika gespeel is, dateer van 1884.

In daardie begin-era het spanne uit Kaapstad, Port Elizabeth, Gramstad en Kimberley teen mekaar gespeel in ’n liga wat bekend gestaan het as die Interdorptoernooi. Teen die einde van daardie dekade, in 1889, was die Suid-Afrikaanse Rugbyraad gevestig en het sy eerste amptelike kompetisie oor die grense van distrikte heen het bekend gestaan as die Raadstrofee. In daardie stadium het vier rugbyunies reeds binne die grense van Suid-Afrika bestaan. Verteenwoordigende spanne uit klubs in die streke van hierdie unies is gekies om aan die nasionale toernooi deel te neem. Die vier unies was die Westelike Provinsie (WP), die Oostelike Provinsie (OP), Griekwaland-Wes (Griekwas) en Transvaal. Die trofee waarom daar in hierdie Raadstrofeetoernooi meegeding is, was ’n silwerbeker wat deur die raad self geskenk is. Daardie eerste toernooi het net ’n paar dae geduur en die WP het uiteindelik as wenner uit die stryd getree.

In 1891 het ’n skatryk skeepsmagnaat, sir Donald Currie, ’n imposante goue beker aan die eerste (Britse) toerspan na Suid-Afrika geskenk. Sy versoek was dat dit oorhandig moet word aan die eerste span wat die toerspan klop, of die span wat die beste teen hom vaar as hy onoorwonne bly. Hierdie toerspan het inderdaad onoorwonne gebly, maar omdat Griekwas met net 0-3 hom verloor het, is die trofee aan die manne van Kimberley oorhandig. Dit beteken dus dat Griekwas nie-amptelik die eerste houers van die Curriebeker was, hoewel hulle dit nie met die wen van ’n nasionale toernooi verdien het nie.

Die volgende jaar, 1892, het die bestuur van Griekwas besluit om die trofee wat hulle die vorige jaar van die Britse toerspan ontvang het aan die Suid-Afrikaanse Rugbyraad te skenk met die uitdruklike doel dat dit die Raadsbeker sal vervang as amptelike trofee vir die nasionale toernooi. So het dit gebeur dat die WP, wat die nasionale toernooi in 1892 gewen het, die eerste amptelike houer van die Curriebeker geword het nadat die Rugbyraad besluit het om die beker na sy skenker te vernoem.

In die eerste agt jaar van die bestaan van die Curriebeker het die WP dit tussen 1892 en 1898 vyf keer na mekaar gewen. In 1893 en 1896 was daar om een of ander rede geen toernooi nie. Die rekord van hierdie vyf agtereenvolgende oorwinnings is in 120 jaar net deur die WP self geëwenaar (1982-’86). In 1899 het Griekwas die Curriebeker vir die eerste keer amptelik gewen, maar daarna het die Tweede Vryheidsoorlog uitgebreek en is daar eers weer in 1904 om dié beker meegeding.

In die ses dekades wat sou volg was daar gereelde onderbrekings weens twee Wêreldoorloë en ander eksterne invloede. Toere deur internasionale spanne van oorsee het ook soms veroorsaak dat geen Curriebekertoernooi ingepas kon word nie.
Daar was ook baie vreemde besluite van die Raad oor die formaat waarop die Curriebekerkompetisie beslis is. Dié vreemde besluite het gereeld tot ongelukkigheid by administrateurs en ondersteuners gelei en was direk verantwoordelik dat daar byvoorbeeld tussen 1959 en 1964 geen Curriebekerkompetisie plaasgevind het nie.

Eers in 1968 het dié kompetisie werklik wortel geskiet en sedert daardie jaar was daar nog elke jaar ’n Curriebekertoernooi en dus ook ’n kampioen (of kampioene in die enkele gevalle waar die beker gedeel is). In 1968 het die eindstryd om die Curriebeker ’n vaste instelling geword nadat daar vroeër ook op ‘n ligastelsel om die beker meegeding is. Hoewel die eerste eindstryd reeds in 1939 gespeel is, het daar tussen daardie jaar en 1967 slegs sewe eindstryde plaasgevind en is die beker twaalf keer volgens die ligastelsel toegeken. Die kompetisie is tussen 1957-’59 oor drie jaar beslis nadat daar in 1958 geen wedstryde was nie weens die besoek van ‘n Franse toerspan.

Die WP het die Curriebekertoernooi in die eerste sewe dekades van sy bestaan oorheers en 21 van sy 30 titels tot en met 1966 gewen en die trofee vier keer gedeel het. Sedert die nuwe eindstryd-formaat in 1968 ingestel is het die Blou Bulle van Pretoria (voorheen Noord-Transvaal) die meeste koning gekraai. Hulle het 17 van hul 19 titels in dié tydperk gewen en die beker vier keer gedeel. Slegs vier ander spanne kon oor die afgelope 120 jaar alleenhouers van die Curriebeker word. Dit is die Goue Leeus (voorheen Transvaal) wat hom nege keer gewen en een keer gedeel het, Natal (deesdae die Haaie) wat hom ses keer gewen het. Die Vrystaat (deesdae die Cheetahs) het hom drie keer gewen en een keer gedeel en Griekwas was drie keer die kampioene. Die Grens (Oos-Londen en omgewing) het die beker in die vroeë 1930’s twee keer met die WP gedeel.

Hoewel die koms van professionele rugby in 1996 kompetisies soos die Vodacombeker en die Superrugbytoernooi gebring het, bly die Curriebekertoernooi steeds een van die Suid-Afrikaanse rugbypubliek se gunstelinge. Dit bly ook die reeks waar die meeste jong talent in die land na vore kom as kandidate vir internasionale rugby. Daar is iets magies aan daardie eeu-oue beker en vir die meeste top Suid-Afrikaanse spelers is hul loopbane nie volledig of werklik suksesvol as hulle nie ten minste een keer as die kampioen vonkelwyn uit dié beker gedrink het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae