Belasting dikwels verkwis, teen betalers gebruik

geldmorsBelastingbetalers se geld word nie net onnodig bestee en dikwels op groot skaal verkwis nie, maar word ook al hoe meer teen hulle gebruik, het die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) Dinsdag gesê. Die SNI het hierop gewys in aanloop tot Pravin Gordhan, minister van finansies, se begrotingsrede môre, en sal die 2014-begroting fynkam vir aanduidings van ’n verswaring of verligting van die belastinglas.

Piet le Roux, senior ekonomiese navorser van die SNI, sê die ouditeur-generaal het in sy jongste gekonsolideerde algemene verslag ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende besteding van R30,8 miljard blootgelê. “Dié verkwisting is slegs die mees ooglopende manier waarop belastinggeld gemors is. Ander staatsbesteding is nie noodwendig tegnies onreëlmatig nie, maar is steeds dikwels ondoeltreffend. Belastingbetalers dok ook verder vir korrupsie en gebrekkige dienslewering op. Omdat belastingbetalers dan dikwels vir ’n tweede keer moet betaal om ten minste uit die privaatsektor die nodige dienste te ontvang, kan daar eintlik van ʼn dubbele belasting gepraat word. Daar is ook nog die voorbeeld van verskeie hooggeplaastes in staat- en semi-staatsinstellings wat òf geskors, òf aangekla word en dan ʼn goue handdruk met belastingbetalers se geld kry. Verlede jaar, byvoorbeeld, het Phil Molefe, voormalige hoof van die SAUK se nuus- en aktualiteitsprogramme, ʼn goue handdruk van R2,4 miljoen gekry nadat hy deur uitsaaier geskors is.”

Le Roux sê wat egter meer kommerwekkend is, is wanneer die regering belastingbetalers se geld teen hulle gebruik met kwaadwillige litigasie. “ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die staat wat reeds meer as R5,2 miljoen aan regskoste moes opdok nadat Solidariteit hom hof toe moes sleep oor sy onwettige en onbillike toepassing van regstellende aksie. Die staat is reeds telkemale deur die howe daarop gewys dat hy verkeerd optree, maar gaan nogtans voort om belastingbetalers se geld teen hulle te gebruik. Die staat oortree sy eie wetgewing en wil dan sy verkeerde optrede met belastingbetalers se geld probeer regverdig.”

Die SNI het vroeër bekend gemaak dat Pravin Gordhan, minister van finansies, se aankondiging van ʼn R7 miljard-verligting in persoonlike inkomstebelasting in sy begrotingsrede van 2013, slegs ʼn skynverligting was (lees meer hier). Dit terwyl feitlik die grootste las van die Suid-Afrikaanse staat op die skouers van slegs enkele miljoene belastingbetalers rus (lees meer hier). Die SNI het die inligting beskikbaar gemaak in die lig van die 100-jarige bestaan van persoonlike inkomstebelasting in Suid-Afrika (lees meer hier) en in aanloop tot Gordhan se begrotingsrede wat Woensdag gelewer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.