Belastingbetalers glo minder as wat SAID voorgee

Feitlik die volle las van die Suid-Afrikaanse staat rus op die moeë skouers van slegs enkele miljoene belastingbetalers, het die vakbond Solidariteit vandag, enkele dae voor Pravin Gordhan, die minister van finansies, se begrotingsrede gesê.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê daar is ʼn baie groter wanbalans tussen die aantal mense wat belasting betaal en die totale bevolking as wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) voorgehou word. “Die SAID sê daar is 13,7 miljoen belastingbetalers in die 2012/13-belastingjaar. In werklikheid betaal slegs 3,3 miljoen belastingbetalers 99% van alle inkomstebelasting, terwyl 2,3 miljoen 93% betaal en 1,5 miljoen vir 84% verantwoordelik is.”

Joubert sê dit is egter belangrik om daarop te let dat diegene wat inkomstebelasting betaal, ook verantwoordelik is vir die betaling van die leeueaandeel van al die ander tipes belasting soos BTW, maatskappybelasting, invoertariewe en belasting op brandstof. “Maatskappybelasting is byvoorbeeld geensins ʼn belasting op maatskappye nie – dit is ʼn belasting op die eienaars en werknemers van maatskappye. Die aandeelhouers en werknemers van maatskappye is individue. Die opbrengs van die maatskappy se aktiwiteit sou hierdie individue toegekom het as dit nie deur maatskappybelasting opgeslurp is nie. Voorts het die mense wat die meeste inkomstebelasting betaal die meeste koopkrag en betaal hulle dus die meeste BTW en ander belastings op produkte en dienste.”

Ten spyte daarvan dat 10,3 miljoen mense in die 2011/12-belastingjaar vir inkomstebelasting geregistreer was, moes slegs sowat 4,8 miljoen mense belastingopgawes indien. Joubert sê 0,2 miljoen kan onmiddellik van die 4,8 miljoen afgetrek word omdat hulle geen belasbare inkomste gehad het nie. “Voorts het ongeveer 1,3 miljoen mense slegs 1% van die totale inkomstebelasting vir die jaar bygedra. Dan bly sowat 3,3 miljoen mense oor wat nagenoeg 99% van alle inkomstebelasting betaal het. Die volgende miljoen belastingbetalers het gesamentlik slegs 5,9% van inkomstebelasting bygedra. Wanneer hierdie miljoen mense van die totaal afgetrek word, bly slegs 2,3 miljoen belastingbetalers oor wat vir sowat 93% van alle inkomstebelasting verantwoordelik was. Wanneer hierdie 2,3 miljoen belastingbetalers ʼn laaste keer verklein word deur diegene wat R150 000 tot R200 000 verdien het, uit te sluit, bly 1,5 miljoen mense oor wat vir nagenoeg 84% van alle inkomstebelasting verantwoordelik was.”

In die lig van dié klein belastingbasis, wat reeds onder erge druk verkeer, het Solidariteit vroeër sy Gee dit terug-veldtog vir ʼn belastingkorting op veiligheidsuitgawes van stapel gestuur. Solidariteit se voorstel vir ʼn belastingkorting op veiligheidsuitgawes is geskoei op die bestaande praktyk ingevolge waarvan Suid-Afrikaanse belastingbetalers belastingkortings op hul mediese uitgawes ontvang. Die veldtog kan deur middel van Twitter, Facebook, SMS’e en webtuistes gesteun word. Mense kan via die webwerf, www.geeditterug.co.za, petisiebriewe aan minister Gordhan stuur, en die veldtog kan op Twitter by #GeeDitTerug gevolg word. Beswaar kan ook aangeteken word deur bloot die woord, “Taks” na 34388 te SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.