Belastingbetalers word as vanselfsprekend beskou

platsakSuid-Afrikaanse belastingbetalers is toenemend ontevrede oor hul swaar belastinglas, die ondoeltreffendheid van staatsbesteding en hul finansiering van sogenaamde openbare dienste wat hulle op die ou end self moet voorsien, het die vakbond Solidariteit Dinsdag in ʼn voorlegging aan die staande en gekose komitees oor finansies gesê. Die voorlegging was ʼn reaksie op Pravin Gordhan, minister van finansies, se mediumtermyn-begrotingsraamwerk.

Volgens Piet le Roux, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, hou die voortslepende openbare weerstand teen die e-tolstelsel nie alleen met die hef van tolgeld vir sekere openbare paaie verband nie, maar dit is eerder ʼn algemene simptoom van die groter belastingsituasie in Suid-Afrika. “Solidariteit se lede is oor die algemeen bereid om aansienlike dele van hulle inkomste by te dra vir sake wat vir hulle min persoonlike voordeel inhou, maar wat die algehele welvaartsvlak in die samelewing verbeter. In sover hulle voel dat maatskaplike welstand deur belasting bevorder word, is Solidariteit-lede gewillig om belasting te betaal. Hulle is egter toenemend oortuig dat, indien hulle nie so baie belasting betaal het nie, hulle die maatskaplike welvaart beter as die regering sou kon verbeter het deur hulle geld vir noukeurig geselekteerde liefdadigheidsorganisasies en ander nie-winsgewende organisasies te gee. Hulle is moeg vir die hoë vlakke van vermorste besteding, regeringsondoeltreffendheid en korrupsie onder staatsamptenare in Suid-Afrika.”

Le Roux het voorts gesê Solidariteit is oortuig dat huidige belastingvlakke reeds enige bedrag wat die regering doeltreffend sou kon bestee, oorskry. “Ons is van mening dat verdere belastingverhogings nie ʼn haalbare oplossing vir huidige regerings- en owerheidprobleme sal bied nie. Daarby is ons steeds oortuig dat Suid-Afrika op ʼn onvolhoubare welsynstaatpad is. Die welsynstaat is finansieel onvolhoubaar en verdring inisiatiewe van die burgerlike samelewing en die mark wat nodig is om die lewendigheid en waardigheid van gemeenskapslewe te herstel.” Volgens Le Roux was die doel van Solidariteit se voorlegging om die komitee se aandag op gewone belastingbetalende Suid-Afrikaners se ervaring van die land se fiskale raamwerk te vestig.

Volgens Le Roux verrig die meerderheid Suid-Afrikaners self, op eie onkoste, ʼn groot aantal dienste wat tipies as ʼn funksie van die regering beskou is. In Februarie het Solidariteit gewys watter gedeelte van hulle nabelaste inkomste voorstedelike Suid-Afrikaners potensieel aan hul persoonlike veiligheid en sekuriteit bestee weens die regering se onvermoë om misdaad hok te slaan. “Solidariteit handhaaf die siening dat Suid-Afrikaners op belastingkortings vir die privaat verskaffing van sogenaamde regeringsdienste geregtig moet wees in gevalle waar die regering misluk om daardie dienste te lewer. Solidariteit hou in die besonder vol dat Suid-Afrikaners belastingkortings vir uitgawes aan persoonlike veiligheid moet kry soos wat hulle belastingkortings vir persoonlike mediese uitgawes kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

henk celliers ·

Dit is hoogtyd dat ons as belasting betalers ons stem begin dik maak oor geen dienslewering van die regering,dit is tyd dat ons belasting begin weerhou,korrupsie op korrupsie

Demokraat ·

20-30 jaar gelede het sekuriteitsdienste bykans nie bestaan nie – vandag betaal elke besigheid en huishouding duisende rande per jaar aan dienste wat deur hierdie ondernemings aangebied word. En dit net omdat die polisie nie meer die beskerming bied wat hulle eintlik behoort te verskaf nie. Op hierdie miljoene wat jaarliks in die land betaal word, kry geen indiwidue enige belastingkorting nie.

Indien Solidariteit daarin kan slaag om minstens ‘n korting vir indiwidue te beding op alle fooie wat ten behoewe van sekuriteit betaal word, sal dit ‘n groot verligting vir belastingbetalers bring.

Pieter Potgieter ·

Kam ons nie alle belasting betalers en werkgewers wyer om belasting te betaal aan n regeering wat geen voordeel in hou vir ons nie. Laat die betaal aan wie die land behoort. Ons is net daar om instand te hou terwyl die regering mors en steel. Kom nou waneer staan ons saam soos hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.