Beloning aangebied in plaasmoord-saak

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n beloning uitgereik vir enigiemand wat hulle met inligting kan bedien oor die moord op Andrew Reynolds op ‘n plaas in 2009.

Reynolds, ‘n welbekende sakeman van Port Alfred, se voorman het op 10 November 2009 omstreeks 09:00 op sy liggaam afgekom. Hy is op die plaas Boskeydell in Fort Brown in die Oos-Kaap vermoor. Die plaas het aan Reynolds se vriend, wat in daardie stadium oorsee was, behoort. Reynolds het reeds ‘n paar maande lank op die plaas gebly en daagliks na Port Alfred gependel.

Die werknemer het die perseel betree deur ‘n hek wat toe was, maar nie gesluit was nie.

Die skuifdeur van die huis het effens oopgestaan. Hy het na sy werkgewer geroep, maar toe hy geen antwoord kry nie, het hy verder ondersoek ingestel. Reynolds het in ‘n plas bloed op die vloer in die slaapkamer gelê. Hy is in sy kop geskiet.

Reynolds het ‘n bootmaatskappy, A&G Marine, wat in Port Alfred baseer was, besit. Die maatskappy was in daardie stadium onder likwidasie.

Daar is later bevind dat ‘n hoëkalibervuurwapen gebruik is. ‘n Vuurwapen en twee selfone is later in ‘n watertenk opgespoor.

Ten spyte van verskeie leidrade, het die polisie nie ‘n deurbraak in die saak gehad nie. Die polisie het nou ‘n beloning van R50 000 uitgereik vir enigiemand wat hulle met inligting kan bedien wat tot die inhegtenisneming en suksesvolle skuldigbevinding van die moordenaar of moordenaars kan lei.

Die polisie doen ‘n beroep op die publiek om met kaptein George Green by 046 603 9130 of 082 442 3685 in verbinding te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.