Beloning om hondeskieter te vang

Argieffoto

Twee diereliefhebbers het saamgespan en ʼn beloning van R13 000 aangebied om die persoon op te spoor wat ʼn pug-kruising reun verlede week in Boksburg met ʼn pyl en boog geskiet het.

Die hond is verlede week deur ʼn lid van die publiek, Leanne McLean, op die hoek van Barry Marais- en Van Dyk Parkstraat opgetel. Die dier het in vol son gelê en het nog gelewe. ʼn Pyl van ʼn professionele boog het die dier deurboor en volgens McLean het die dier erg gely.

McLean het die hond na ʼn veearts in Brakpan gehaas, waar die hond uitgesit moes word weens sy ernstige beserings.

“Die persoon wat dié gru daad gedoen het, mag nie daarmee wegkom nie! Hy of sy sal dit weer doen,” het die organisasie Kitty and Puppy Haven gesê. Twee van die organisasie se ondersteuners, Pia Angela en Maxi Lee het onderskeidelik R10 000 en R3 000 aangebied in ʼn poging om die skuldige op te spoor.

Enigiemand met inligting oor die voorval of weet aan wie die pyl moontlik behoort, kan die Boksburg DBV by 011 916 5906/7 kontak.

Waarskuwing: Die foto mag sensitiewe lesers ontstel

 

Die pug-kruising wat geskiet is. Foto: Kitty and Puppy Haven / Facebook

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.