Ben Affleck die nuwe Batman

Ben Affleck

Warner Bros. het Vrydag aangekondig Ben Affleck sal in 2015 die rol van Batman in ‘n nuwe superheld-rolprent vertolk.

“Affleck en rolprentvervaardiger Zack Snyder sal ‘n splinternuwe baadjie vir die karakter ontwerp in dié rolprent wat se titel nog nie bekend gemaak is nie,” het Warner Bros. in ‘n verklaring gesê. “Batman en Superman sal vir die eerste keer saam in ‘n rolprent verskyn en moontlik voortborduur op die regisseur se visie van die heelal wat hy in Man of Steel geskep het.

Die studio het in Julie tydens Comic-Con aangekondig dat die twee superhelde mekaar in ‘n nuwe rolprent die stryd sal aansê.

Henry Cavill, wat Superman in Man of Steel gespeel het, sal weer die rol van dié superheld in die nuwe rolprent opneem.

Affleck se naam het talle aanhangers egter verras. Sy naam was nie eers genoem toe ‘n lys van 15 moontlike Batman-akteurs deur die London Guardian opgestel is nie.

“Ben verskaf ‘n interessante teenbalans aan Henry se Superman,” het Snyder in ‘n verklaring gesê. “Hy het genoeg ervaring om ‘n dieper karakter te verskaf aan ‘n man wat ouer en wyser is as Clark Kent [Superman] en dra die littekens van ‘n ou misdaadbestryder. Hy het ook die sjarme wat die wêreld van die miljardêr Bruce Wayne [Batman] verwag. Ek kan nie wag om saam met hom te werk nie.”

Amy Adams, Laurence Fishburne en Diane Lane, wat almal in Man of Steel verskyn het, sal volgens die studio ook in die opvolgrolprent te sien wees.

Affleck het onlangs in Argo die hoofrol vertolk en die regie en vervaardiging van dié rolprent behartig. Argo het die Oscar-toekenning ontvang vir die beste rolprent. Hy is in Oktober te sien in Runner Runner saam met Justin Timberlake.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Ben Affleck gaan moontlik Batman vir my bederf. Dis jammer Christopher Nolan is nie aanboord nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.