Die Baviaanspoort-gevangenis naby Pretoria is vir publieke besoeke gesluit nadat bendegeweld oor die naweek daar uitgebreek het.
Die Sowetan het Woensdag berig daar het ʼn bakleiery tussen gevangenes uitgebreek tydens ʼn sokkerwedstryd. Twintig gevangenes en ses tronkbewaarders is in die voorval beseer.
Ofentse Morwane, woordvoerder van korrektiewe dienste, sê die gevegte was bendeverwant en van die oortreders het glo skerp voorwerpe en glas van gebreekte vensters as wapens gebruik.
“Daar was chaos. Tronkbewaarders moes knuppels en elektriese skilde gebruik om die bendes uit mekaar te dryf,” het Morwane gesê.
Hy sê die gevangenes wat steekwonde opgedoen het, is na die Mamelodi-hospitaal geneem vir behandeling, maar is intussen reeds ontslaan.
Dit is nog nie bekend hoe lank die gevangenis vir besoekers gesluit gaan wees nie.
– Sapa