Bendegeweld: Twee mense by begrafnis geskiet

Twee mense is Saterdag by die begrafnis van ‘n bendelid in Ottery, Kaapstad, geskiet.

Adjudant-offisier November Filander, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het gesê gewapende mans het skote tydens die begrafnis van Peter Meyer, wat Dinsdag vermoor is, gevuur. “’n 65-jarige vrou en ‘n 21-jarige man is gewond. Die aanvallers het glo in ‘n taxi gevlug,” het Filander gesê.

Die blitspatrollie het ‘n swart Mercedes agternagesit wat glo van die begraafplaas af weggejaag het. Die motor is in Strandfontein voorgekeer en vier vroue is in besit van twee onwettige vuurwapens gevind. Filander sê hulle sal bepaal of die skietery met dié vuurwapens verbind kan word.

In nog ʼn bendeverwante-voorval is ʼn 21-jarige man Saterdag in Steenberg aangekeer na ʼn onwettige vuurwapen in sy besit gevind is. Volgens Filander het ʼn skietery, omstreeks 17:30, tussen twee bendes in Parken Court uitgebreek. ʼn 12-jarige seun en ʼn 23-jarige man is in die bendes se kruisvuur gewond. Hulle sterk in die hospitaal aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.