Bendeverkragting-video: Meisie gevind

Die 17-jarige meisie wat glo deur ʼn groep jong mans om die beurt verkrag is terwyl dit opgeneem is, is gevind.

ʼn Polisiewoordvoerder, ao. Kay Makhubele, sê die meisie is saam met ʼn man in sy huis in Braamfischerville gevind. Makhubele sê dit is duidelik dat die meisie teen haar wil daar gehou is. Hy sê die meisie is eers na die Dobsonville-polisiestasie geneem waarna sy na ʼn dokter geneem sal word. Makhubele sê die man by wie sy gekry is, is van ontvoering aangekla en kan moontlik ook van verkragting aangekla word. Die meisie het verlede maand in Dobsonville vermis geraak. Sy is glo verstandelik gestremd.

Sewe jong mans, tussen die ouderdomme van 14 en 20, is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hulle glo die meisie om die beurt verkrag het. Die jong mans het glo ʼn grafiese selfoonopname gemaak van die voorval wat in Soweto plaasgevind het. Daar kan glo op die video gehoor word hoe die jong mans grappe maak en mekaar aanmoedig. Daar kan ook gesien en gehoor word hoe die meisie by haar aanvallers pleit om op te hou. Die jong mans het haar glo na die tyd R2 aangebied om stil te bly oor die voorval. Hulle sal na verwagting more in die hof verskyn op aanklag van ontvoering en verkragting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.