Bendeverkragting-video: Saak uitgestel

Die saak teen sewe mense, insluitend twee minderjariges, wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn 17-jarige meisie verkrag en dit verfilm het, se saak is Donderdag in die Roodepoort landdroshof uitgestel.

ʼn Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Mthunzi Mhaga, sê die saak is tot 25 April uitgestel vir verdere ondersoek. “Ons moet ʼn psigiatriese verslag kry rakende die meisie se geestestoestand, aangesien ons nie seker is of sy wel verstandelik gestremd is nie.” Mhaga se die huidige aanklagtes teen die beskuldigdes is gegrond op die kyk van die video. Hulle word aangekla van verkragting, seksuele aanranding, seksuele dienste van ʼn minderjarige vir ʼn beloning, die gebruik van ʼn jeugdige om kinderpornografie te vervaardig, die pleeg van ʼn seksuele daad in die teenwoordigheid van ʼn minderjarige en die pleeg van ʼn seksuele daad in die teenwoordigheid van ʼn volwassene. “Hulle sal ook tereg staan op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op rolprente en publikasies. Dit is die vervaardiging , besit en verspreiding van kinderpornografie,” sê Mhaga.

Die sewe beskuldigdes is Dinsdag in Soweto in hegtenis geneem. Die meisie is gister saam met ʼn man in sy huis in Braamfischerville gevind. Die man by wie sy gekry is, is van ontvoering aangekla en kan moontlik ook van verkragting aangekla word. Die meisie het verlede maand in Dobsonville vermis geraak. Die beskuldigdes het haar glo om die beurt verkrag . Hulle het glo ʼn grafiese selfoonopname gemaak van die voorval. Daar kan glo op die video gehoor word hoe die jong mans grappe maak en mekaar aanmoedig. Daar kan ook gesien en gehoor word hoe die meisie by haar aanvallers pleit om op te hou. Die jong mans het haar glo na die tyd R2 aangebied om stil te bly oor die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.