Besetters se poging om uitsetting te stuit misluk

Die proses om die grondgrypers van die Wallmannsthal-gebied, noord van Pretoria, te verwyder het vandag begin. Volgens Cornelius Jansen van Rensburg, AfriForum se hoof van gemeenskapsake, het die onwettige besetters deurentyd probeer om die uitsetting te keer deur misbruik te maak van die regstelsel: “Die regspan van die grondbesetters het so laat as 14:00 vandag weer probeer om die uitsetting te keer, maar het weereens misluk.”

Regter de Vos het die saak van die rol geskrap en beveel dat die besetters die kostes op prokureur en kliënt skaal betaal. Die besetters kan nie weer ʼn hofaansoek om tersydestelling bring alvorens bestaande koste-bevele betaal is nie.

AfriForum se regspan het deurentyd die Wallmannsthal Communal Property Association (WCPA) bygestaan. Die WCPA sal die grond ontvang as deel van die grondrestitusieproses.

Die situasie by Wallmannsthal het al die kenmerke van ’n Zimbabwe-tipe grondgryp gehad, dáárom is hierdie ’n belangrike oorwinning vir die reg tot grondbesit in Suid-Afrika. Die sukses is te wyte aan die samewering tussen AfriForum, die WCPA en die omliggende gemeenskap.

Die stryd om die WCPA se grondregte te beskerm is egter steeds nie verby nie, omdat plakkers op die twee aangrensende gebiede, Haakdoornlaagte en Buffelsdrift, ook verwyder moet word. AfriForum sal die regstryd voortsit totdat die hele gebied, wat aan die WCPA toegeken is, ontruim is.

Dit moet nie uit die oog verloor word dat die grondgrypers nie haweloses of arm mense is nie. Die grond wat vir R3 500 per erf verkoop is, is deur mense uit middel- en hoë-inkomstegroepe aangekoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.