Terwyl oud-president Nelson Mandela in ‘n kritieke maar stabiele toestand in die hospitaal verkeer, floreer sake glo buite die Medi-Clinic Harthospitaal in Pretoria.
Verskeie Suid-Afrikaners het ‘n besigheidsgeleentheid raakgesien en het klere en vlae met Mandela se foto daarop begin verkoop, berig SowetanLIVE.
Madiba is sedert 8 Junie in die hospitaal met ‘n herhalende longkwaal.
Straatverkopers en jeug van verskeie kerke verkoop ook kos aan die internasionale media wat buite die hospitaal uitkamp.
Steve Nkoeng, ‘n matriekstudent van Noordwes, verkoop T-hemde met die slagspreuk ‘I love you Tata Madiba’ daarop vir R120 en pette vir R45. Hy verkoop ook vlae vir R100. Hy het R2 855 binne twee dae gemaak, berig SowetanLIVE verder.
Armando van Niekerk, ‘n lid van Performing Ministry, het gesê hulle verkoop boereworsrolletjies en koeldrank aan joernaliste en besoekers in ‘n poging om R20 000 in te samel vir hul kerk.
‘n Vryskutfotograaf wat mense buite die hospitaal afneem, verdien glo sowat R300 per dag. “Ek het gesien mense gebruik hul selfone om foto’s te neem, maar hulle het iemand nodig om hulle voor die hospitaal af te neem. Ek het my kamera en ‘n draagbare drukker saamgebring,” het die fotograaf, Maxwell Modau, aan die Sowetan gesê.
Mense in die omgewing huur glo ook hul woonstelle uit aan lede van die internasionale media.