Besigheid vervals glo betaalstrokies, ID-dokumente en matrieksertifikate

Die polisie van die Oos-Kaap het ʼn klopjag op ʼn besigheid uitgevoer wat glo vervalsde regeringsbetaalstrokies, identiteitsdokumente en matrieksertifikate vervaardig.

Kol Mzukisi Fatyela, ʼn polisiewoordvoerder, sê ʼn bestuurder van ʼn Bears-meubelwinkel het die polisie genader na ʼn verdagte 39-jarige vrou ʼn rekening daar wou oopmaak.

“Met verdere ondersoek is daar bepaal dat die vrou nie ʼn werk het nie, maar sy was wel in staat om ʼn vervalsde betaalstrokie en identiteitsdokument te vertoon,” het Fatyela gesê.

Die vrou is Maandag in hegtenis geneem, waarna sy die polisie na die besigheid in Mthatha geneem het waar sy die dokumente gekoop het.

Die matrieksertifikate het “goeie uitslae” gehad vol “A” en “B”-simbole.

ʼn Vrou is op die perseel in hegtenis geneem. Die polisie is nog op soek na die besigheid se eienaar en verwag dat meer inhegtenisnemings gedoen gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.