“Beskerm koshuistradisies by Tuks”

AfriForum Jeug het Donderdag ’n aanlynpetisie vir die beskerming van die Koshuis van die Jaar-titel by die Universiteit van Pretoria (UP) geloods asook vir die beskerming en uitbou van gesonde koshuistradisies. Die petisie is geloods na aanleiding van ‘n besluit deur TuksRes om die Koshuis van die Jaar-titel, wat as puntestelsel dien vir koshuise wat aan verskeie kultuuraktiwiteite by Tuks deelneem, af te skaf.

“Die Koshuis van die Jaar-titel is die ruggraat van tradisie en kultuuraktiwiteite by Tuks aangesien dit ʼn gesonde mededingingsgesindheid onder koshuisstudente kweek en hulle aanspoor om aan ‘n verskeidenheid aktiwiteite deel te neem,” het Barend Taute, takvoorsitter van AfriForum Jeug Tukkies, gesê.

“Tuks-studente is dikwels gefrustreerd dat UP nie ag slaan op hul uitroep om tradisies te beskerm nie en draai dus nou na ouers en alumni om hulle steun te gee,” sê Taute.

Die besluit van TuksRes om die Koshuis van die Jaar-titel in 2013 af te skaf is in ʼn onlangse verslagsdokument aangeteken. Volgens Prof Roelf Visser het Tuks nog nie die finale besluit gemaak nie.

Die verwydering van die Koshuis van die Jaar-titel kan slegte gevolge vir koshuistradisies inhou. “Indien die kompetisie-element weggeneem word sal die kwaliteit en kwantiteit van die deelname aan kultuuraktiwiteite sterk afneem,” sê Taute.

In die verlede is kultuuraktiwiteite soos ienkkonsert en koshuisdigbundels onder die vaandel van Koshuis van die Jaar verwyder en is daar besluit dat hierdie aktiwiteite nie sal tel vir die puntestelsel wat die wenner van die titel bepaal nie. Albei aktiwteite het intussen doodgeloop. Ander aktiwiteite wat afgeskaf of ingeperk is, sluit die jool-blikskud, klubhuistye, klubhuis-bands, pot&pons, koshuis-raids, Lentedag en eerstejaarspetspeletjies in.

Oor die afgelope ses jaar is tientalle tradisies en kultuuraktiwiteite deur UP beperk of afgeskaf. Hierdie drastiese afname in studentetradisies asook die jaarlikse verskuiwing van koshuise se ontheffingsdatum word in AfriForum Jeug se nuutste petisie aan Tuks-ouers en alumni uitgewys. Die petisie is aanlyn by www.afriforumjeug.co.za beskikbaar.

Met elke petisie wat voltooi word, word daar ‘n brief aan [email protected] gestuur waarna elke brief per hand aan die UP-bestuur en TuksRes oorhandig sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.