Betoger in Sharpeville geskiet

Skote is Dinsdagaand in Sharpeville afgevuur en een persoon is gewond, het die polisie in Gauteng gesê.

“’n Ambulans het die persoon na die hospitaal gevat,” het ʼn polisiewoordvoerder, konst. Tshishiwa Mitileni, gesê. Dit is nie bekend of die slagoffer ‘n man of ‘n vrou is nie. Volgens Mitileni is paaie afgesper en ‘n kerk tent aan die brand gesteek. “Die polisie het probleme… mense gooi ons en ons voertuie met klippe.” Geen polisiebeamptes is beseer nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Inwoners het vroeër Dinsdag betoog omdat die hoofvieringe van Menseregtedag in Kliptown, Soweto, gehou word. “Dit [die openbare vakansiedag] gaan oor die Sharpeville-slagting. Die mense van Sharpeville betoog omdat hulle nie verstaan waarom [die vieringe] nou in Kliptown gehou word nie,” het Mitileni gesê. Menseregtedag was voorheen bekend as Sharpevilledag, om die dood van 69 swart betogers, wat deur die apartheid-polisie geskiet is in Maart 1960, te herdenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.