Betogers maak amok in Mpumalanga

Die foto van die onluste is deur die DA van Mpumalanga (@DA_Mpum) op Twitter gelaai.

Die polisie van Mpumalanga het Donderdag bevestig 33 mense is in hegtenis geneem in verband met openbare geweld in Amsterdam.

Betogers het Woensdagaand die strate ingevaar en die munisipale kantoor aan die brand gesteek, het lt.kol. Leonard Hlathi gesê. Die betogings hou glo verband met swak dienslewering van die Mkhondo-munisipaliteit.

“Drie polisievoertuie is onder andere ook beskadig en ʼn polisiebeampte het geringe beserings opgedoen nadat hy met ʼn steen gegooi is,” het hy gesê. Betogers wou ook ʼn biblioteek aan die brand steek, maar die brand is gou onder beheer gebring. Daar is egter rekenaars van die biblioteek gesteel. Vyf winkels is ook geplunder.

Hlathi het verder gesê teen Donderdag was die situasie steeds gespanne en is die polisie op die toneel om die onluste onder beheer te kry.

Agt van die 33 mense wat sover in hegtenis geneem is, is minderjariges. “Die minderjariges is in die sorg van hul ouers vrygelaat. Almal wat in hegtenis geneem is, moet Vrydag in die Piet Retief-landdroshof verskyn,” het Hlathi bygevoeg.

Hltahi het gerugte ontken dat vyf mense sedert Woensdagaand se onluste dood is. ʼn Nuuskanaal het vroeër berig twee polisiebeamptes en drie inwoners is glo weens die onluste dood. “Die berig is onwaar, niemand is dood nie,” het Hltahi bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.