Betogings teen Mej. Wêreld-kompetisie

mej wereldMoslem-ekstremiste in Indonesië het Donderdag hul betoging teen die Mej. Wêreld-kompetisie voortgesit, maar organiseerders dring daarop aan dat die geleentheid steeds hierdie naweek op die vakansie-eiland Bali sal plaasvind.

Sowat 1 000 lede van die Islamiese groep Hizbut Tahrir Indonesia het in die hoofstad, Jakarta, buite die gebou van die plaaslike organiseerder van die kompetisie saamgedrom. Die betogers is hoofsaaklik vroue en hulle het deur dreunsang, “Allah Akbar” [god is groot] en met plakkate, “Verwerp mej. Wêreld” betoog.

Betogings het ook in Sumatra en Makassar plaasgevind.

Die plaaslike organiseerder, die MNC-mediahuis, het gesê dit is nie moontlik om die kompetisie te kanselleer of die geleentheid te skuif nie, en die regering het glo onderneem om sekuriteit aan die funksie te verskaf. “Ek dink daar is ‘n misverstand,” het Hary Tanoesoedibjo, hoof van MNC, gesê. “Ek kan mense verseker dat niks buite ons kultuur sal plaasvind nie. Ek sou dit nie aanvaar het as meisies met hul bikini’s sou paradeer nie.”

Julia Morley, die voorsitter van die Mej. Wêreld-organisasie, het vroeër bevestig dat nie een van die deelnemers in ‘n bikini sal verskyn nie.

Die kompetisie sal gedeeltelik in Bali plaasvind met die finale ronde op 28 September buite Jakarta.

Kol. Hariadi, woordvoerder van die polisie in Bali, het gesê daar is nie enige tekens van sekuriteitsbedreigings nie en die polisie sal alle lughawens en seehawens op die toeriste-eiland monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.