Bewaarder tronk toe oor moord op vrou

Johan Dietricht is Donderdag tot 10 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy vervreemde vrou na die Pollsmoor-gevangenis gelok en daarna doodgeskiet het.

Dietricht het Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof voor waarnemende regter Nape Dolamo verskyn. Dolamo het aan Dietricht gesê dat hy lewenslange tronkstraf in die gesig gestaar het aangesien hy skuldig bevind is aan moord met voorbedagte rade. Dolamo sê daar was egter oortuigende en wesenlike omstandighede wat die hof toegelaat het om ‘n minder ernstige vonnis op te lê. Dietricht is reeds vier jaar verhoorafwagtend en het nie ʼn kriminele rekord nie. Dietricht het aan die hof gesê dat hy vir jare lank gelukkig getroud was tot sy oorlede vrou, Marilyn, ʼn verhouding met haar werkgewer aangeknoop het. “Sy was ʼn huisvrou maar het begin werk en op my begin verneuk met haar baas.” Hy sê sy vrou het dikwels met haar werkgewer flankeer terwyl hy teenwoordig was en dat sy selfs naweke saam met hom weggegaan het. Dietricht het ook by een geleentheid sy vrou en haar werkgewer in die bed betrap. Sy vrou het later uitgetrek en by haar suster gaan woon. Op 21 Augustus 2009 het Dietricht antidepressante saam met ʼn bottel sjerrie gedrink voor hy sy vrou van sy huis op die Pollsmoor-gevangenis se gronde gebel het. Dietricht was vroeër ʼn bewaarder by die gevangenis. Toe Dietricht se vrou by die huis aangekom het, het hy op haar begin skiet. Sy het probeer vlug maar geval waarna hy haar in die gesig geskop het. Dietricht het hierna probeer selfmoord pleeg maar die sneller het vasgesteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.