Beweerde bedrog, mishandeling by Avastar

Avastar-nagklub in Rivonia, Johannesburg

Bewerings van salarisse wat nie betaal word nie, bedrog, aanranding, dreigemente, en onwettige sakepraktyke het teen die gewilde nagklub Avastar en sy mede-eienaar, Mike Basson, aan die lig gekom.

Die bewerings is deur verskeie voormalige werknemers gemaak en word deur dokumente, stemopnames en ooggetuie-verslae gestaaf, berig EWN. Die klub, in Rivonia, het onverwags die afgelope naweek gesluit weens tegniese redes, maar dit blyk dat die verhuurder die eienaars uitgesluit het weens ʼn agterstallige betaling.

Meer as ʼn dosyn voormalige Avastar-werknemers het gesê die klub se modus operandi bly dieselfde: Personeel word aangestel, geen werkloosheidsversekering (WVF) of belasting word betaal nie, kontrakte word belowe en wanneer die kontant teruggehou word, verdwyn hulle.

Een man sê Basson skuld hom R147 000, terwyl ander beweer werknemers is belowe dat hulle kontrakte sou ontvang, maar dit het nooit gebeur nie. Ooggetuies beweer mede-eienaar Basson het ʼn kroegman aangerand en ʼn geweer op ʼn werknemer gerig. “Hy het sy kop in die muur geslaan waar dit ʼn duik gelaat het,” het een man gesê. Ander ooggetuies het bevestig hulle kon bloed by die man se wond sien uitstroom.

In ʼn geheime opname van Basson, wat Eyewitness News bekom het, het hy ʼn welbekende platejoggie, vir wie hulle glo geld skuld, verbaal mishandel. Basson ontken die bewerings van mishandeling.

Hy erken daar is arbeidsdispute, maar sê hy is nie verkeer nie. Hy sê daar is verskeie sake tans oor bedrog en gevalle waar werknemers weg is sonder om kennis te gee. “Ons is besig om dié probleme met ons arbeidsprokureurs op te klaar,” het Basson gesê.

Basson sê die klub sal Woensdag weer oopmaak sodra ʼn elektrisiteitsklaringsertifikaat uitsorteer is.

Hier is ‘n video wat voor die klub se opening op YouTube gelaai is:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.