Beweerde dronkbestuurder maak vyf dood

Argieffoto

Vyf mense is Saterdag dood nadat die voertuig waarin hulle gery het, teen dié van  ʼn beweerde dronkbestuurder gebots het.

Volgens inspekteur Kobeli Mokheseng, ʼn woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, het die voorval in Alrode plaasgevind. “Die beweerde dronkbestuurder (37) was in ʼn Volkswagen Golf onderweg na Alberton toe hy beheer oor sy voertuig verloor het. Sy voertuig het begin rol en in die weg van aankomende verkeer in beweeg,” het Mokheseng gesê.

“Terwyl die voertuig gerol het, het dit teen ʼn Toyota Corolla gebots en teen  ʼn minibustaxi tot stilstand gekom. Altesaam vyf passasiers in die taxi, waaronder ʼn 5-jarige kind, is in die botsing dood.”

Die bestuurder van die Toyota het geringe beserings opgedoen. Die res van die taxi se passasiers is in ʼn ernstige toestand na die hospitaal geneem. Die beweerde dronkbestuurder het geringe beserings opgedoen. Die man is op die toneel in hegtenis geneem en moet Maandag in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.