ʼn Pasiënt het vermoedelik Dinsdag by die Helen Joseph-hospitaal in Aucklandpark, Johannesburg, selfmoord gepleeg deur uit ʼn venster op die 7de verdieping te spring.
“Verpleegsters het die pasiënt Dinsdagoggend omstreeks 05:30 laas gesien toe hy die badkamer besoek het,” het dr. Raymond Billa, hoof uitvoerende beampte van die hospitaal, gesê. Hulle het 20 minute later besef hy het nog nie teruggekeer na sy bed toe nie. “Hulle het die badkamerdeur oopgemaak en gesien die venster is oop.”
Die personeel van die hospitaal het na die pasiënt begin soek, en ʼn skoonmaker het ʼn liggaam op die grondvloer aangetref en dadelik die verpleegsters en sekuriteit in kennis gestel.
Die polisie is na die toneel ontbied.
“Die man is Saterdag na die hospitaal se ongevalle-eenheid gebring nadat hy glo kruiemedisyne en ʼn groot hoeveelheid alkohol by sy huis gedrink het,” het Simon Zwane, woordvoerder van die departement van gesondheid in Gauteng, gesê.
Die man is vir organofosfaat-vergiftiging behandel.
Hy is Maandag na die hospitaal se intensiewesorg-eenheid oorgeplaas.
“Die departement sal ʼn ondersoek las oor die beweerde selfmoord,” het Hope Papo, LUR vir gesondheid, gesê. “Dit is ʼn tragiese voorval en moet in besonderhede ondersoek word oor hoe dit gebeur het en hoe dit voorkom kon word.”
Die pasiënt se familie en personeel van die hospitaal sal berading ontvang.