Beweging stig noodfonds om verligting te bring

Solidariteit Beweging Noodfonds. (Foto: Verskaf)

Die Solidariteit Beweging het ’n noodfonds gestig om maatskaplike nood as gevolg van die Covid-19-virus te verlig. Die fonds gaan deur Solidariteit Helpende Hand bestuur word en word deur instellings van die beweging waaronder AfriForum, Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand en die FAK ondersteun.

Helpende Hand, die beweging se maatskaplike instelling, is wyd daarvoor bekend dat hy kwesbare groepe op ’n volhoubare wyse ophef en hierdie organisasie se fokus sal in die komende tyd daarop gerig wees om gemeenskappe wat deur die impak van die koronavirus getref word, by te staan.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, volg ’n maatskaplike krisis ’n ekonomiese krisis en verwag die instelling dat die nood net groter sal word. Dus word die noodfonds gestig sodat die gemeenskap mekaar tydens hierdie moeilike tyd kan bystaan. Volgens Noëth word dié instelling oorval met navrae van mense wat om hulp vra.

Volgens Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, gaan die krag van gemeenskap in hierdie krisistydperk ’n kardinale rol speel. “Die beweging se fokus was nog altyd om ’n beweging uit die gemeenskap vir die gemeenskap te wees, en in hierdie tydperk gaan dit noodsaaklik wees dat die beweging steeds tot die gemeenskap verbind is. Die fonds het derhalwe ’n ander fokus en doel as die regering se “Solidarity Fund”. In ’n tyd soos hierdie is gemeenskapsfondse noodsaaklik omdat antwoorde nie slegs net uit die staat kan kom nie,” het Buys benadruk.

“Dié fonds sal deur Solidariteit Helpende Hand se ouditeure geoudit word, terwyl ’n spesiale oorsigkomitee sal sorg dat alle fondse reg aangewend word om sodoende die beste hulpverlening aan weerlose gemeenskappe te bied. Bydraers sal ook belasting-vrywaringsertifikate vir hul skenkings ontvang,” het Noëth benadruk.

Skenkings kan op die koronakrisis-webblad gemaak word deur https://corona.org.za/donasie/ te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael 1 ·

Hierdie is die tipe fondse wat ondersteun behoort te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.