Bewyse teen Malema hoop op

Johan Kruger, Dirk Hermann en prof. Carel Snyman

Solidariteit gaan vandag ʼn verslag aan die Valke oorhandig om hulle met hul ondersoek teen die geskorste leier van die ANC Jeugliga, Julius Malema, by te staan.

Die Valke het Sondag bevestig dat hy aanklagte van aanhitsing tot geweld en intimidasie teen Malema ondersoek ná die onlangse onrus by Lonmin se Marikana-myn en by ander myne in Noordwes en Gauteng.

Solidariteit het sowat twee weke gelede aanklagte van aanhitsing tot geweld en intimidasie teen Malema aanhangig gemaak nadat geweld by Gold One se Modder East-goudmyn by Springs uitgebreek het ná Malema mynwerkers toegespreek het. Die vakbond het sowat ʼn week hierna nog ’n strafregtelike klag van aanstigting tot openbare geweld en intimidasie teen Malema aanhangig gemaak nadat hy mynwerkers by die Goldfields-myn naby Carletonville toegespreek het en ’n beroep op alle mynwerkers gedoen het om met ’n landwye staking te begin.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê volgens die verslag sal Malema nie ’n geldige verweer op ’n aanklag van aanhitsing hê nie. “Die woorde ‘rewolusie’ en ‘onregeerbaar’ impliseer aksies wat onwettig is. Daar kan geen twyfel wees dat Malema die bedoeling gehad het om met sy woorde die skare te beïnvloed om ’n ‘rewolusie’ te begin en om die myne ‘onregeerbaar’ te maak nie.”

Prof. Carel Snyman, ʼn kenner in strafreg en voormalige dosent aan Unisa, het die 10 bladsye verslag saamgestel met redes hoekom Malema mootlik krimineel vervolg kan word.

“Myns insiens het hy hom skuldig gemaak aan uitlokking tot openbare geweld, uitlokking tot saakbeskadiging en uitlokking tot aanranding asook die misdaad van intimidasie,” het Snyman gesê. (Sien die volledige verslag hier)

Volgens Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, beskou die Valke die aanklagte as ernstig en is hulle met ʼn hoëvlak ondersoek besig wat beteken dat daar vinnig teen Malema opgetree kan word. “Die klagtes is ingedien en die verslag is ook aan die Valke oorhandig. Ons het ʼn sterk saak. Dit behoort nie moeilik te wees om die klagtes te vervolg nie,” het hy gesê.

Snyman sê sou Malema in hegtenis geneem word, sal sy straf deur die oordeel van die hof bepaal word.

“Hy kan moontlik tronkstraf van twee tot drie jaar kry, wat opgeskort is vir vyf jaar op voorwaarde dat hy nie weer soortgelyke stellings maak nie. Dit sal ʼn manier wees om hom stil te maak, want as hy sy mond weer oopmaak, tree die opgeskorte vonnis in werking,” het Snyman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Clifford ·

Wat van die regering in Botswana wat hy wou laat “toppel”? Hierdie is ook ‘n saak wat aandag behoort te geniet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.