Die ongeluk het in Kerkstraat, Bloemfontein plaasgevind, het Vanessa Jackson, woordvoerder vir ER24 berig. Die voertuig was erg beskadig, aangesien die ligpaal deur die middel van die motor gesny het en die paramedici was aanvanklik oortuig dat die insittendes ernstig beseer sou wees. Die paartjie, beide in hul 30s, het egter net ligte snye en skrape opgedoen.
Dit blyk dat die man beheer oor die voertuig verloor het, die voertuig oor die pad geswenk en in die paal vasgejaag het. Die impak van die ongeluk was so groot dat die paal deur die metaal geskeur het, en wonderbaarlik die vrou, wat in die passasiersitplek gesit het, gemis het.
Paramedici het die paartjie per ambulans na die hospitaal geneem vir verdere ondersoek en om seker te maak dat daar geen moontlike beserings is nie. Geen ander voertuie was in die ongeluk betrokke nie.