Bheki Cele ontken Nkandla-betrokkenheid

Pres. Jacob Zuma se privaat Nkandla-woning

Pres. Jacob Zuma se privaat Nkandla-woning

Bheki Cele se woordvoerder het Vrydag gesê die Openbare Beskermer het nie bewyse dat die voormalige polisiekommissaris aan die sekuriteitsopgraderings by Nkandla gekoppel kan word nie.

“Daar bestaan nie ʼn enkele bewys dat hy enigiets in verband met Nkandla gedoen of nie gedoen het nie,” het Vuyo Mkhize, Cele se woordvoerder, Vrydag aan Sapa gesê.

Die Mail & Guardian het Vrydag berig ʼn brief van die Openbare Beskermer, wat glo uitgelek het, bewys dat Cele nie die verkwistende uitgawes by Nkandla in KwaZulu-Natal verhoed het nie. Volgens die publikasie het Thuli Madonsela glo aan Cele geskryf dat die polisie en die departemente van openbare werke en verdediging nie die behoorlike prosesse gevolg het nie. Sy het voorlopig bevind dat Cele, as aanspreeklike persoon in daardie tyd by die polisie, versuim het om die spandabelrigheid te verhoed.

Madonsela wou nie kommentaar lewer nie. Haar woordvoerder, Kgalelo Masibi, het aan Sapa gesê hulle lewer nie kommentaar oor ondersoeke wat steeds aan die gang is nie.

Mkhize het bygevoeg dat Madonsela van Cele verwag om te reageer op voorlopige bevindings teen hom wat nie deur bewyse gestaaf kan word nie. “Die Openbare Beskermer het persoonlik vir hom gesê daar is nie ʼn enkele bewysstuk wat hom impliseer nie. Dit gaan die verstand te bowe dat sy sê daar is nie bewyse nie, en tog het sy dié bevinding gemaak,” het Mkhize gesê.

ʼn Inter-ministeriële taakspan oor die uitgawes by Nkandla het in Desember bevestig dat ʼn bedrag van R206 420 644 aan die opgraderings spandeer is.

Madonsela sal na verwagting op 9 Februarie aankondig wanneer die amptelike verslag vrygestel gaan word. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.