Biblioteek deur bibliotech vervang?

Die eerste “boeklose” biblioteek is pas in Amerika aangekondig.

Terwyl koerante en tydskrifte al ‘n geruime tyd voor die aanslag van die kuberruim moet aanpas of swig, word ‘n mate van weerstandigheid teen e-boeke nog in dele van die wêreld ervaar – as sommige bronne geglo word. Die man agter die inisiatief, wat sy boeklose biblioteek ‘n bibliotech noem, is regter Nelson Wolff van San Antonio. Hy beoog ‘n hele rits sulke instellings.

Wolff dink in terme van heelwat paradigmaskuiwe. Sy bibliotechs sal hoogs toeganklik wees en meestal in winkelsentrums opgerig word. In plaas daarvan dat mense boeke uitneem, kan hulle e-lesers uitneem, en daarmee die boeke van hul keuses in internetkafees en tuis gaan lees. Tot dusver het pogings in die rigting van boeklose biblioteke gemengde welslae behaal. ‘n Boeklose biblioteek is reeds in 2002 in Tucson, Arizona geopen, maar vyf jaar later was daar ook op openbare aandrang gedrukte boeke op die rak.

In België het die verkope van e-lesers verlede jaar begin afneem, aldus ‘n bespreking oor die gewildheid van e-boeke in De Standaard. Die artikelskrywers se vermoede is dat die aanvanklike ontploffing in die belangstelling van e-boeke op die entoesiasme van ‘n klein groepie gebaseer was. In die VSA, skryf hulle, dui opnames daarop dat 60% van die lesers steeds voorkeur gee aan gedrukte boeke. Talle ander bronne is dit egter eens dat die belangstelling in e-boeke steeds groei.

In 2011 het meer bekostigbare e-lesers die gewildheid van e-boeke in die VSA die hoogte laat inskiet, aldus ‘n Pew-opname. Volgens Pew se opname het 45% van mense in die opname aangedui hulle verkies e-boeke teenoor 43% wat gedrukte boeke verkies. Altesaam 88% van die mense wat e-boeke lees, lees egter ook gedrukte boeke.

Vroeg vanjaar het Tredigital berig dat die uitleen van e-boeke by Amerikaanse bibioteke die hoogte inskiet. Van ‘n beweerde afname in belangstelling weet dié instansie duidelik niks. Waarnemers meen lesers het ‘n voorkeur vir topverkopers, rillers en romanses as e-boeke, terwyl lesers “swaarder” literatuur as gedrukte boeke verkies. Dit lyk tog of e-boeke ook ‘n uitkoms bied aan akademiese en vakboeke. Hierdie boeke is onontbeerlik, maar weens die beperkte mark peperduur om in gedrukte vorm uit te gee. Vakplatforms word geskep waar professionele mense deur die beskikbare literatuur kan “blaai” en boeke identifiseer wat hulle wil, of behoort aan te skaf. Vir die skrywers is daar geen risiko soos ‘n onverhaalde uitgawe nie, maar ook geen waarborg dat die rande gaan inrol nie. Die platforms bied ook die geleentheid vir skrywers van ander boeke wat nie tipies belangstelling onder die “gewone” lesers sal ervaar nie, en dus deur e-uitgewers oorweeg sal word om hul produkte uit te gee en te bemark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.