Bielie-aardbewing in Japan – neem groot aardbewings toe?

Die skade aan ‘n gebou in Concepcion, Chile ná die aardbewing van 8.8 op 27 Februarie 2010 Foto: boston.com

Die aardbewing van magnitude 7,3 wat Japan pas geskud het, was die 13de aardbewing vanjaar wêreldwyd wat sterker as 7 op die Momentmagnitudeskaal geregistreer het.

Met nog net drie weke van die jaar oor, is dit die stilste aardbewingjaar sedert 2008, toe daar 12 sulke aardbewings was.

‘n Onlangse aardbewing aan Kanada se weskus het tot ‘n tsunamiwaarskuwing en ontruimings in Hawaii gelei, daarna het ‘n bielie-aardbewing in Guatemala die dood van sowat 50 mense veroorsaak, waarna sowat 12 mense in Mianmar dood is. Dit alles volg na ‘n Italiaanse hof tronkstraf aan ‘n paneel wat seismoloë insluit, opgelê het wat nie ‘n aardbewing by L’Aquila voorspel het nie.

Maar neem groot aardbewings nie dalk toe nie?

Word na die aantal aardbewings van magnitude 7 of meer die afgelope dekade gekyk, kan niemand verkwalik word as hy meen aardbewings neem toe nie. In 2002 was daar “net” 12 sulke aardbewings, in 2003 ‘n totaal van 14, in 2004 was dit 12, en in 2005 en 2006 was dit 10 elk. In 2007 was dit 17, met 4 wat sterker as M8 was. In 2008 was dit 12, in 2009 was daar 16, in 2010 was dit 21, en in 2011 was daar 19.

Die eerste 5 jaar van die dekade was daar dus gemiddeld minder as 12 bielies per jaar, en die tweede helfte van die dekade gemiddeld 17.

Tog het een van die ergste aardbewings wat nog gemeet is, die een by Sumatra van M9,1 op 24 Desember 2004, in die eerste helfte van die dekade voorgekom. Sowat 200 000 mense het in die gevolglike tsunami gesterf
Dit moet in gedagte gehou word dat die grootte van die aardbewings nie noodwendig die meeste sterftes tot gevolg het nie. Die diepte van die episentrum, die afstand van beboude gebiede, en die kwaliteit bouwerk speel ook belangrike rolle in die dodetal. Die aardbewing in Februarie 2011 wat 185 lewens in Christchurch geëis het, was “maar” M6,3. As in gedagte gehou word dat ‘n aardbewing van M7 tien keer sterker is as een van M6, blyk dit dat Christchurch se aardbewing heelwat te swak was om in die statistiek hierbo opgeneem te word. Die aardbewing van M7 wat in 2010 talle lewens in Haïti geëis het, is wel in die statistiek opgeneem.

Volgens data wat die USGS pas bekend gemaak het, is vasgestel dat aardbewings aan die Amerikaanse ooskus, veel verder grondverskuiwings tot gevolg het as aardbewings van dieselfde sterkte aan die weskus.

Maar hoe lyk sake so ver vanjaar?

Tot dusver vanjaar was daar 12 aardbewings van M7 of meer, waarvan twee, ook by Sumatra, meer as M8 was. Dit lyk dus of vanjaar ‘n “ondergemiddelde” aardbewingjaar vergeleke met die voorafgaande vyf jaar gaan wees. Die jaar is egter nog nie verby nie. Die twee groot bielies by Sumatra val op ‘n strook wat wetenskaplikes meen die Indies-Australiese tegktoniese plaat is besig om te verdeel. Die deel wat Indië huisves “bots” teen die Eurasiese plaas wat dit stadiger maak.

Wat aardbewings van M 6 of meer betref wat die USGS as “beduidend” aangeteken het, was daar reeds 50 vanjaar. Op die grafiek word die aardbewings van M7 en sterker vanjaar in blou aangedui, en dié van M6 en sterker in rooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.