BIL klop Wallabies in Brisbane

Die Britse en Ierse Leeus (BIL) behoort hul geluk nie te kan glo nadat hulle die eerste van hul drie toetse teen Australië naelskraaps met 23-21 in Brisbane gewen het nie. Die halftydtelling was 13-12 in die guns van die Leeus.

Die Aussie-heelagter Kurtley Beale het twee strafskoppe laat in die wedstryd verbrou en daarmee tesame sy span se kans om een van die elite-wêreldspanne te klop. Beale kan egter nie al die blaam dra vir die nederlaag nie want hy het tog sekuur pale toe gekorrel voor dit.

Die Aussies se losskakel in vandag se toets, James O’Connor, het self met drie skoppogings pale toe in die eerste helfte misluk. Daarenteen het die Leeus se Walliese heelagter, Leigh Halfpenny, slegs een skop pale toe gemis.

Dit sal interessant wees om te sien of die Australiese afrigter, Robbie Deans, wel die SOS-roepsein na Quade Cooper stuur nadat hy hom onverwags uit die span gelos het vir hierdie allerbelangrike reeks. Cooper bring ‘n hele boel broodnodige vaardighede na die tafel soos ‘n onvoorspelbaarheid op die aanval, ‘n beproefde skakelpaar-kombinasie met Will Genia en ‘n goeie skopvoet. Cooper en Deans sit egter nie om dieselfde vuur nie en dit is onwaarskynlik dat Deans sy trots sal sluk en Cooper vra om tot die Wallabies se redding te kom.

Die Aussies se ster vir die dag was ongetwyfeld die Waratahs-heelagter, Israel Folau. Hy het twee skitterdrieë in die eerste helfte gedruk.

Die eerste een was vroeg in die wedstryd toe Genia van agter ‘n losskrum in sy eie helfte weggebreek, rieme neergelê en vir Folau gegee het af te rond. Nadat die Walliese vleuel George North ‘n ewe indrukwekkende langafstand-drie gaan druk het, het Folau talle Leeus-verdedigers uitoorlê om minute later weer agter die pale te gaan kuier.

Die tweede helfte se enigste drie is deur die Walliese vleuel Alex Cuthbert gedruk toe hy etlike klein spasies in die Wallaby-verdediging uitgebuit het.

Die Aussies en die Leeus ontmoet mekaar volgende week vir die tweede toets in Melbourne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.