Twee mans is glo gevang toe hulle biltong van meer as R900 van ‘n slaghuis in Petrusburg in die Vrystaat gesteel het.
“Die mans het Donderdagmiddag buite die slaghuis in die dorp gestaan toe twee polisiebeamptes hulle gesien het,” het sers. Thabo Litabe, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, gesê. “Aangesien die twee verdagtes gereeld vasgetrek word vir misdaad in die gebied, was die twee beamptes dadelik op hulle hoede en het besluit om hulle verder dop te hou.”
Die mans het glo uiteindelik die slaghuis betree en die beamptes het buite gewag. Die mans het met twee plastieksakke met 33 stukke biltong ter waarde van R980 uitgestap.
Litabe sê die mans kon nie bewys van betaling lewer nie en is in hegtenis geneem. Die mans sal na verwagting Maandag in die hof verskyn op aanklag van diefstal.