Bitter koud in Japan, snikheet in Australië, nat in Brittanje

‘n Golf breek aan die kus van Brittanje Foto: The Independent

‘n Golf breek aan die kus van Brittanje Foto: The Independent

Minstens vyf mense is dood en sowat 600 beseer in die ergste sneeuval in dekades wat sedert die aanbreek van die naweek oor dele van Japan uitgesak het.

In Tokio is 27 sentimeter sneeu gemeet, die meeste in 45 jaar. In die stad Sendai het 35 sentimeter sneeu geval, die eerste keer in 78 jaar dat soveel sneeu uitsak.

Intussen is ‘n kode rooi vir die suidooste van die deelstaat Victoria in Australië uitgereik. Volgens die owerhede is dit die grootste brandgevaar sedert 2009 toe 173 mense in bosbrande om die lewe gekom het. Saterdag is 41,9 grade in Melbourne gemeet. Victoria loop die afgelope maande onder ‘n knellende droogte deur, en hoewel effens koeler weer vir die staat voorspel word, sal dit na verwagting met kwaai wind gepaard gaan wat die brandgevaar baie verhoog.

Intussen word Brittanje deur ‘n “voerband” van Atlantiese storms getref, met die storm Ruth wat as die ergste beskryf word. Die weerdiens beskryf Ruth as ‘n “monsterstorm.” Altesaam 194 vloedwaarskuwings is reeds uitgereik, asook twee ernstige vloedwaarskuwings. Laasgenoemde beteken die gevaar bestaan van lewensverlies.

In Frankryk is twee mense dood toe ‘n trein in die sneeu in die Alpe ontspoor het toe dit deur ‘n vallende rots getref is.

In Nederland is ‘n waarskuwing vir hewige windstote oor die Ijselmeer uitgereik, wat tot Sondag sal voorkom.

Bronne: Trouw, The Independent, The Telegraph

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.