Bloem-bejaarde vermoor; vrou aangerand

Gordon Buzzard, ʼn 75-jarige inwoner van Heuwilsig in Bloemfontein, is dood en sy vrou, Annette (67), beseer nadat hulle Dinsdag in die vroeë oggendure in hul meenthuis aangeval is.

Kol Annelie Wrench, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê twee mans het die egpaar omstreeks 00:15 oorweldig terwyl hulle geslaap het. “Albei bejaardes is verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek. Gordon het ernstige wonde aan sy bors opgedoen en is op die toneel dood,” het Wrench gesê.

Die verdagtes het Annette vasgebind en van die toneel gevlug met juwele, selfone, bankkaarte en die egpaar se voertuig. Annette is later na die Pelonomi-hospitaal gehaas en is tans in ʼn stabiele toestand.

“Een van die verdagtes is twee ure ná die voorval in hegtenis geneem nadat die egpaar se voertuig opgemerk is. Die polisie het die 25-jarige in hegtenis geneem en op al die gesteelde goedere beslag gelê. Die ander verdagte is nog soek,” het Wrench bygevoeg.

Die verdagte moet Donderdag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn. Hy word aangekla van huisinbraak, moord en poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.